fbpx
Vryheidsfront Plus

Dienslewering: Suid-Afrikaners moeg om krummels vir ‘n brood se prys te kry

(Debat in parlement oor ondersoek na die fiskale raamwerk van plaaslike regerings teenoor sy grondwetlike mandaat; voorstelle oor skuld deur en aan munisipaliteite en die skep van meganismes vir volhoubare plaaslike regering)

 

Belastingbetalers in Suid-Afrika begin ‘n versadigingspunt bereik met swak dienslewering waarvoor ten duurste betaal word. Mense is nie meer tevrede met krummels as hulle vir ’n brood betaal nie.

Plaaslike regerings se grondwetlike mandaat is nou verweef met die land se groter fiskale raamwerk en dit is ‘n gegewe dat beskikbare fondse ‘n bepalende rol hierin speel.

Hierdie geld word egter grootliks vermors deur korrupsie en onbevoegdheid wat ‘n maaksel is van die ANC-regering.

Geen munisipaliteit kan belê in infrastruktuurontwikkeling, instandhouding of maatskaplike opheffingsprogramme sonder geld nie.

Terselfdertyd is munisipale inkomste uit water en krag onontbeerlik, maar dit moet steeds bekostigbaar bly. Raak dit te duur, kan minder gegoede huishoudings bloot nie betaal nie en dit vorm ‘n bose kringloop.

Munisipaliteite se skuld aan Eskom beloop tans R57 miljard. Die regering skuld Eskom op sy beurt R23 miljard. Die totale reddingsboei aan Eskom beloop nou reeds R181,5 miljard.

‘n Oplossing is vir die nasionale tesourie om die Eskom-reddingsboei eerder aan te wend om munisipaliteite se skuld aan die kragvoorsiener te verminder om hul likiditeit te verbeter.

Dit kan munisipaliteite help om miljoene te spaar aan uitstaande rente en sal hul kontantvloei ingrypend verbeter.

Die grootste bydraende faktor tot munisipaliteite se geldprobleme is nogtans dat misdaadsindikate die geld beheer.

Korrupsie, bedrog en onbevoegdheid veroorsaak dat belastingbetalers al hoe minder waarde kry vir hul geld. Dit kan nie so voortgaan nie.

Afrika-geskiedenis het geleer dat lande waar misdaad en korrupsie seëvier, die grootste risiko op ‘n staatsgreep loop. Dit is wanneer die burgery nie meer kan of wil betaal vir korrupsie en bedrog sonder dienslewering nie.

Dit is presies wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur. Belastingbetalers is nie tevrede met krummels as hulle ’n brood koop nie.

Munisipale tendertrepeneurs en korrupte politici steel nou die melk en die room en los die leë kan agter vir projekte.

Dienslewering verdwyn wanneer salarisrekeninge soms meer raak as munisipaliteite se totale inkomste.

Dan stel die staat steeds mense teen groot salarisse aan terwyl die private sektor mense aflê weens die verwoestende gevolge van Covid-19 en die ANC se vernietiging van die ekonomie.

Die ANC het munisipaliteite oor die afgrond bestuur tot op ‘n punt van geen omkeer nie. Suid-Afrikaners verdien ná dertig jaar van ANC-wanbestuur ’n gesonde en goeie regering wat na hul belange én hul geld omsien.

Die skrywer Idowu Koyenikan skryf in sy boek ”Wealth for all”, dat "wanneer geld besef dit is in goeie hande, wil dit in daardie hande bly en vermeerder". Niks is veilig in die ANC se hande nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.