Die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) se munisipale bestuurder, Elliot Maseko, het gehoor gegee aan die VF Plus en die gemeenskap se druk om vullisverwyderingsvoertuie wat buite werking was, te herstel.
Die kwessie is op 26 Januarie tydens 'n raadsvergadering bespreek waarna Maseko beloof het om die vullisverwyderingsprobleme reg te stel.
Die VF Plus het ook menigmale sy beswaar in verband met die kwelpunt voor Maseko se deur gelê.
Maseko het sy woord gestand gedoen en 14 van die 15 vragmotors is sedertdien herstel en vullisverwydering vind weer gereeld plaas.
Die VF Plus sal met die hulp van die gemeenskap oorsig hou oor die vullisverwyderingsdienste en indien nodig druk toepas waar benodig.