(Begrotingsposdebat in parlement: Polisie)
Die minister van polisie sê tereg dat ’n land se moordsyfer aanduidend is van die sukses van die betrokke land se polisiemag teen misdaad. Die gemiddelde internasionale moordsyfer is 7 mense per 100 000 van die bevolking. In Suid-Afrika is dit 36 per 100 000 wat dui op die polisie se verlore stryd teen misdaad.
Die mense van Suid-Afrika voel onveilig. Dit word weerspieël deur die feit dat daar volgens die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira), tans meer as 2,5 miljoen private sekuriteitsbeamptes in die land geregistreer is. Hiervan is 556 000 aktief aan diens.
Vergelyk dit met die polisie se sowat 145 000 polisielede wat die publiek moet bedien en dit is duidelik waarom die publiek onveilig voel in die hande van polisie.
’n Wysiging aan die Vuurwapenwet het dit nou ten doel om die private besit van vuurwapens te verminder weens ’n sogenaamde gebrek aan vuurwapenbeheer en in ’n poging om moorde te verminder.
Dit is totaal misleidend. Die minister van polisie (Bheki Cele) het in antwoord op ’n vraag van die VF Plus toegegee dat meer mense met skerp voorwerpe vermoor word as met vuurwapens.
Die groot probleem met die wettige lisensiëring van ’n vuurwapen lê by die sentrale vuurwapenregister.
’n Ondersoek wat die minister van polisie in 2010 laat doen het, het bevind dat daar groot onderliggende tekortkominge by die polisie se sentrale vuurwapenbeheerstelsel is soos onvoldoende inligting, ’n ontoereikende databasis wat die gevolg is van gebrekkige inligtingstegnologie.
Hierdie faktore is steeds vaardig en is waarskynlik erger as in 2010. Wetsgehoorsame vuurwapeneienaars kry nou die skuld vir die onvermoë van die polisie om ’n werkbare stelsel te skep.
Wat plaasmoorde aanbetref, het die minister nou ’n nuwe kategorie in misdaadstatistiek geskep vir die aanranding van werkers deur plaasboere en voormanne. Dit is ’n poging om op eensydige wyse boere die skuld te gee vir aanrandingsprobleme op plase.
Om ’n duidelike prentjie hieroor te skets, moet die minister ook ’n kategorie skep vir aanranding tussen plaaswerkers en -bewoners onderling asook aanranding van boere en voormanne deur voormalige plaaswerkers en -bewoners.
Boere sal dit verwelkom, want tans is daar pogings om ’n algemene prentjie te skets van boere wat hul werkers aanrand. ’n Volledige prentjie met volledige statistiek sal hierdie wanopvatting regstel.