Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nasionale tesourie stel nie goeie voorbeeld nie

(Begrotingsposdebat in parlement: Nasionale tesourie)

In moeilike finansiële tye is gesonde fiskale beginsels allerbelangrik en nasionale tesourie is veronderstel om die bastion van fiskale verantwoordelikheid en bestuur te wees. Dié instelling voldoen egter ook nie altyd aan wette en regulasies nie en stel ’n swak voorbeeld aan ander regeringsinstansies.

Volgens die ouditeur-generaal (OG) tree nasionale tesourie nie met die nodige dringendheid op teen uitgewysde risiko’s en om interne beheer te verbeter nie. Dit is uitgewys as redes vir ongemagtigde besteding van meer as R249 miljoen by dié instelling in die vorige boekjaar.

’n Verlies van R267 miljoen aan vrugtelose en verkwistende uitgawes is ook aangeteken weens die vertraagde inwerkingstelling van die geïntegreerde finansiële bestuurstelsel.

Die Wetsontwerp op Openbare Verkryging moet afgehandel word. Die wet sloer al jare lank en moet bepaal dat alle tenders en kontrakte gepubliseer word om deursigtigheid op alle vlakke van regering te bevorder.

Goeie finansiële bestuur sou die huidige finansiële krisis voorkom het. Beleidsekerheid sou die ekonomiese resessie gekeer het. Daar moet van gefaalde beleidsrigtings ontslae geraak word.

Mislukte staatsentiteite waarop belastinggeld gemors word, moet geprivatiseer word. Los dinge soos ’n staatsbank voordat waardevolle tyd en geld gemors word op ’n ideologiese beheptheid wat nie in belang van die land sal wees nie.

Nasionale tesourie het ’n onmoontlike taak om skuld te beperk en sodoende te keer dat die land nie finaal oor die fiskale afgrond stort nie.

Dit word onmoontlik gemaak deur mislukte ANC-beleid, faktore soos die aanstel van onbevoegde amptenare, geldvermorsing, ’n onvermoë om die staat se salarisrekening te verminder en voortdurende tenderkorrupsie.

Net ekonomiese groei kan die sinkende, Suid-Afrikaanse skip red. Los die onwerkbare ideologie. Werk saam om ’n omgewing te skep waarin groei kan plaasvind, waarin die private sektor kan belê en werk skep om ’n welvarende toekoms vir almal in die land te verseker.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.