fbpx
Vryheidsfront Plus

Gebrek aan verantwoordbaarheid een van hoofredes vir verval van staatsdiens en dienslewering aan publiek

(Begrotingsposdebat in parlement: Staatsdiens en administrasie)

Verantwoordbaarheid van die openbare sektor, oftewel die tekort daaraan, is een van die hoofredes vir die chaotiese toestand waarin die land en in besonder dienslewering aan gewone Suid-Afrikaners tans verkeer.

Indien die departement vir staatsdiens en administrasie slegs aandag gee aan die gebrek aan aanspreeklikheid en gevolgbestuur in die staatsdiens, sal dit die eerste en waarskynlik die belangrikste stap wees om die regering se doeltreffendheid en dienslewering te verbeter.

Die huidige loongeskil en dreigende openbare sektor-staking as gevolg daarvan, is die slegste situasie moontlik vir die tyd waarin die land hom tans bevind.

Die loongeskil, wat grootliks in die eerste plek veroorsaak is deur ondeurdagte massa-aanstellings in departemente en tweedens lafhartige loononderhandelinge, het nou die algehele gebrek aan verstandige regering in Suid-Afrika tot ‘n spits gedryf.

Suid-Afrika kan nie ‘n massastaking bekostig nie, nog minder kan die fiskus dit bekostig om aan die eise van vakbonde vir ‘n 8,3% verhoging te voldoen.

Die huidige aanbod van ‘n deur die bank verhoging van 1,5% met ‘n bykomende kontantbetaling van R978 is onsinvol.

Dit sal meer sin maak om sleutel-staatsamptenare soos dokters, verpleegsters, polisielede, onderwysers, maatskaplike werkers en ander meer volgens verdienste te beloon.

Hierdie staatsdienswerkers is onmisbaar en moet so behandel word. Besnoeiings moet eerder in departemente gedoen word waar daar oorbodige personeel is.

Dit is onaanvaarbaar dat staatsamptenare wat sake met die staat doen, aan die toeneem is. Alhoewel die departement gereeld verslag doen oor pogings om hierdie gewraakte praktyk hok te slaan, kom daar meestal niks van nie.

Die gerapporteerde gevalle is aan die toeneem en dit is net dié wat bekend is. Daar is min sprake van die sogenaamde hoë standaard van professionele etiek wat van die openbare administrasie verwag, en deur die Grondwet vereis word.

Die staatsdiens se bevordering van deursigtigheid deur die publiek van tydige, toeganklike en akkurate inligting te voorsien, laat in die praktyk veel te wense oor.

Selfgestelde prestasie-doelwitte deur departemente, halfgebakte verklarings vir wanprestasie en nie-nakoming, die sleep van voete deur departemente en munisipaliteite met die voorsiening van inligting aan die publiek, wat maklik beskikbaar behoort te wees, is aan die orde van die dag.

Die prioriteite van die ANC-regering is verkeerd. Meriete en verantwoordbaarheid is onbekende begrippe vir die ANC en alvorens dit nie reggestel word nie, sal almal in die land saamgesleep word op die pad na verval.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.