(Begrotingsposdebat in parlement: Basiese onderwys)
Die departement van basies onderwys volg 'n gesentraliseerde benadering tot onderwys, wat nie tot sosiale kohesie of tot goeie onderwys lei nie. Daarom versoek die VF Plus die departement om sy hulpbronne op skole te fokus waar resultate gebrekkig is.
Professionele onderwysers, of dit in openbare -, onafhanklike – of tuisskole is, vaar beter sonder die staat wat gedurig oor die skouer loer.
Suid-Afrikaanse onderwys is die erfgenaam van verskillende benaderings tot skoling. Waar skole benader word as 'n plek waar teenstellende magte van werkgewer en werknemer mekaar ontmoet, oorheers vakbonde en gespanne verhoudings.
Waar onderwysers 'n roeping onder regverdige voorwaardes wil vervul, is die personeel en ouergemeenskap 'n bondgenootskap. Dit is waar die staat sy rol tot oorhoofse standaardstelling en die verskaffing van geriewe behoort te beperk.
Juis omdat die ideologie onderliggend aan die staat se onderwysvoorsiening kultuurgemeenskappe toenemend vervreem, is onafhanklike onderwys al hoe belangriker. Dit sluit duur prestige-instellings in, maar ook skole in gemeenskappe wat hul skaars hulpbronne so aanwend dat die staat hul kinders nie kaap nie.
In teenstelling met wat owerhede dikwels vrees, help selfstandigheid in onderwys om sosiale kohesie tot stand te bring, of te behou. Dit is juis wanneer gemeenskappe in staatsonderwys misken voel, dat sosiale kohesie in die slag bly.
Tuisskole in die besonder word deur die wet toegelaat, maar ouers wat dit toepas, voel dikwels dat hulle teen burokratiese mure vasloop. 'n Vorm daarvan, waarvoor die VF Plus erkenning vra, is samewerkende tuisskole. Dit is waar meer as een gesin saamwerk om 'n uitgebreide tuisskool of mikroskool tot stand bring.
Onderwys behoort in die finale instansie 'n funksie van die plaaslike gemeenskap te wees, waartoe die staat die voorreg het om by te dra. Huidige onderwysvoorsiening van die staat sal daartoe lei dat al hoe meer ouers en selfs volle gemeenskappe hulle daarvan losmaak.