(Begrotingsposdebat in parlement: Internasionale betrekkinge en samewerking)
Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking moet fokus op dít wat van kritieke belang vir die land is soos die herstel van die ekonomie deur beleggers te lok, die ontsluiting van handelsmarkte en die bevordering van beleggersvertroue en toerisme.
In die proses moet die ANC-regering ook sy neus uit die sake van ’n soewereine land soos Israel hou en besef dat sy solidariteit met ‘n internasionale terreurgroep soos Hamas nie bevorderlik is vir algemene internasionale betrekkinge nie.
Sake soos die bevordering van Afrika se volhoubare ontwikkeling en deelname aan interregeringstelsel is wel belangrik, maar gegewe die situasie waarin Suid-Afrika hom bevind, kan dit nie die fokusgebied wees nie.
Die departement kan ook nie bekostig om meer as R1 miljard per jaar aan die huur van eiendomme vir personeel oorsee te bestee nie. Dit is 16% van die departement se totale begroting. Daar moet eerder gefokus word op kleiner, maar meer effektiewe verteenwoordiging in lande wat werklik saakmaak.
In die proses moet ook aandag gegee word aan die kwaliteit van personeel wat Suid-Afrika in die buiteland verteenwoordig. Die voorbeeld van die diplomaat David Nkosi is nog vars in die geheue. Hy het ‘n luukse woonstel in Wene so beskadig dat dit R715 000 gekos het om te herstel.
Feitlik alle toebehore in die woonplek was gebreek, dit was haglik vuil en besmet. In Maart vanjaar het die departement aangekondig dat hy dit ondersoek. Dit is egter nie goed genoeg dat die departement vir die skade betaal nie, want hierdie geld behoort aan die land se belastingbetalers. Nkosi moet self verantwoordelik gehou word vir elke sent van die skade.
Die Israel/Palestina-kwessie moet gemeld word. Die Suid-Afrikaanse regering en selfs president Cyril Ramaphosa skaar hulle vierkant agter die Palestyne en Hamas en veroordeel Israel se sogenaamde aanvalle op die Palestyne.
Waarom word nie een woord gesê oor die meer as 4 000 vuurpyle wat op Israel afgevuur is om onskuldige burgerlikes te dood en te vermink nie?
Suid-Afrika moet besef hy het geen invloed of geloofwaardigheid hoegenaamd om ‘n rol te wil speel in dié konflik nie en hy moet eerder sy neus uit ‘n soewereine land se aangeleenthede hou.