Die toenemende koperkabeldiefstal vanuit substasies en rioolwerke is besig om die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) verder op sy knieë te dwing. Indien die tendens voortduur kan van die substasies vir maande buite werking wees.
Kabeldiewe het onlangs by drie watersuiweringswerke toegeslaan en ‘n groot hoeveelheid kabels gesteel.
Die Rietspruit-watersuiweringswerke in Vanderbijlpark is die swaarste getref met kabel van 1,2km wat gesteel is. Dit gaan die munisipaliteit, wat onder gedeeltelike administrasie is en skaars basiese dienste kan lewer, miljoene rand kos kom die kabel te vervang.
Die diefstalle volg nadat twee sekuriteitswagte by die Verref-substasie in Vereeniging doodgeskiet is terwyl hulle die eiendom bewaak het. Twee dae tevore is twee sekuriteitswagte met pype aangerand en in ‘n hospitaal behandel.
Die vandalisering en diefstal van infrastruktuur neem toe ondanks bewaking deur sekuriteitsmaatskappye.
Die VF Plus het twee jaar gelede voorstelle by die Emfuleni-raad ingedien om skroothandelaars aanspreeklik te hou vir die aankoop van onwettige koperkabels.
Die party het voorgestel dat wanneer skroothandelaars koperkabel aankoop, die verkoper sy identiteitsdokument moet toon wat op ‘n databasis aangeteken moet word. Die voorstel is deur die raad afgekeur.
Omdat die buurtwagte of gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) nie self ‘n klag kan indien by die polisie wanneer hulle ‘n verdagte met koperkabels betrap nie, het die party voorgestel dat ‘n munisipale amptenaar van die elektrisiteitsafdeling die gesteelde goedere moet gaan uitken en ‘n klag van diefstal teen die verdagte indien.
Ook hierdie voorstel is afgeskiet omdat die betrokke amptenaar van die elektrisiteitsafdeling nie altyd beskikbaar is om dit te doen nie.
Dit is duidelik dat Emfuleni se ANC-beheerde raad nie belangstel of oor die politieke wil en vermoë beskik om oplossings te vind vir die swak dienslewering waarmee inwoners daagliks gekonfronteer word nie.
Inwoners van Emfuleni moet in die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die VF Plus opstaan, saamstaan en sterk standpunt inneem teen die verval van plaaslike regering.
Navrae: 076 616 2124