fbpx
Vryheidsfront Plus

Krane in Emalahleni loop leeg weens ANC se onbevoegdheid

Die blaam vir die waterprobleme wat die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank) tans ervaar, moet vierkantig op die skouers van die ANC-beheerde raad geplaas word.

Die munisipaliteit pluk nou die wrange vrugte van jarelange swak beplanning rondom instandhouding van die waternetwerk, 'n tekort aan kundige personeel en die feit dat baie inwoners nie hul dienstegelde betaal nie.

Die munisipaliteit se onvermoë om uitstaande diensteskuld te verhaal, laat hom met ‘n te groot tekort aan inkomste om behoorlike dienste te kan lewer.

Daar is oënskynlik geen kundiges op die gebied van waterbestuur in Emalahleni nie en ook nie die politieke wil om in die beste belang van die belastingbetalers op te tree nie.

Die ouditeur-generaal (OG) het bevind dat die meeste munisipale amptenare nie bevoeg is om die werk te verrig waarvoor hulle aangestel is nie.

Die VF Plus se standpunt is dat slegs meriete moet geld met die aanstelling van amptenare ongeag velkleur en dat die ANC se beleid van kaderontplooiing gestop moet word.

Inwoners in sekere gebiede van Emalahleni / Witbank gaan nou weens die onbevoegdheid en wanbestuur van die ANC gebuk onder geweldige ongerief weens waternood wat veroorsaak word deur gebarste asbes-waterpype, onklaar waterkleppe en pompe wat water aan die reservoirs en waternetwerk moet voorsien.

Die munisipaliteit het watertenks op sekere plekke aangebring waar die inwoners van die betrokke gebiede kan water kry. Daar is egter nie behoorlike bestuur en tydroosters in verband met die voorsiening van die watertenk-voertuie bekend gemaak nie.

Die enigste langtermyn-oplossing vir die Emalahleni-munisipaliteit se waterkrisis en algemene diensleweringsprobleme is vir inwoners van die munisipaliteit om met die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap uit te stuur teen die ANC se vernietiging van die munisipaliteit. Die verval kan gestop word.

Navrae: 082 887 5403 / 084 652 9164

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.