Die plaasmoord die afgelope naweek in die Goedemoed-distrik in die Suid-Vrystaat, is ’n pynlike herinnering dat plaasaanvalle en -moorde oudergewoonte oor die feestyd toeneem, wanneer boere ontspanne en op hul gemak is.
Hierdie aanvalle raak landelike gemeenskappe direk en eis elke keer ’n onaanvaarbare tol op gesinne en gemeenskappe.
Die VF Plus neem met hartseer kennis van die voorval en verwelkom die vinnige optrede van die polisie wat drie verdagtes in hegtenis geneem het. Vuurwapens is ook in hul besit gevind.
Hierdie blitsige reaksie beklemtoon hoe belangrik samewerking tussen boere, plaaswagte en die polisie is om misdaad in landelike gebiede te bekamp.
Die VF Plus doen ‘n beroep op boere en landelike gemeenskappe om hulself oor die feesseisoen ekstra te beveilig.
Plaasaanvalle gedurende hierdie tyd neem dikwels toe. Aanvallers se modus operandi verander voortdurend en dit is nou meer as ooit belangrik om waaksaam te wees, jou paraatheid te verskerp en veiligheidsmaatreëls te prioritiseer.
Geen voorsorgmaatreëls is oorbodig nie en boere mag binne die raamwerk van die wet optree om hulself en hul gesinne te beskerm.
Die VF Plus moedig boere aan om hul gesinne- en werkers se lewens te verdedig, soos dit ons grondwetlike reg is.