Die VF Plus maak ernstig beswaar teen die Ekurhuleni-metro se skielike kennisgewing wat vereis dat inwoners, ondernemings en sekuriteitsmaatskappye hul privaat kringtelevisiekameras (CCTV) voor Vrydag, 27 November 2026 moet registreer, met die dreigement dat ongeverifieerde kameras ná dié datum verwyder kan word.
Die metro voer aan dat die registrasie nodig is om misdaadbekamping te koördineer, privaatheidswetgewing af te dwing en beheer oor munisipale infrastruktuur uit te oefen.
Hoewel die VF Plus privaatheidsregte en wetsnakoming ondersteun, ondermyn ’n strafgerigte benadering juis die samewerking wat die metro sê hy wil bevorder.
Privaat kameras is ’n onmisbare vennoot vir die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) en polisie in misdaadvoorkoming en -ondersoeke. Inwoners wat hul eie geld bestee om gemeenskappe te beveilig, verdien samewerking, nie dreigemente nie.
Om duisende rolspelers skaars twee weke te gee voordat boetes of die verwydering van toerusting oorweeg word, is onredelik, veral aangesien baie mense nog nie eens bewus is van die nuwe vereistes nie.
Verder kan die EMPD, wat reeds onder ernstige mannekrag- en hulpbronbeperkings gebuk gaan, nie bekostig om skaars wetstoepassingskapasiteit weg te lei van werklike misdaadbekamping om administratiewe kamera-inspeksies uit te voer nie.
Die VF Plus doen daarom ’n beroep op Ekurhuleni om:
• Die sperdatum te verleng sodat inwoners en ondernemings genoeg tyd het om hul kameras te registreer.
• Duidelik te kommunikeer en die publiek behoorlik in te lig oor die presiese vereistes en registrasieproses.
• Samewerking bo straf te kies deur eers ’n opvoedkundige benadering te volg voordat boetes of strafmaatreëls oorweeg word.
• EMPD-hulpbronne te beskerm sodat metropolisiebeamptes op misdaadbekamping gefokus bly en nie met administratiewe take belas word nie.


