fbpx
Vryheidsfront Plus

Versoeningsdag: Erken die kulturele reg van die Afrikaner

Die Handves van Regte in die Grondwet van Suid-Afrika erken die reg van gemeenskappe en individue om hul kultuur te beoefen en uit te leef. Die jaarlikse herdenking van die 1838-Gelofte as Geloftedag deur Afrikaners is daarom ʼn grondwetlike reg.

Dít was die tema van die boodskap wat dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, vandag gelewer het by die Smitsfield-Geloftefeesherdenking by Ermelo in Mpumalanga.

Volgens dr. Groenewald staan Versoeningsdag en die jaarlikse herdenking van die 1838-Gelofte nie teenoor mekaar nie, maar naas mekaar. Dit is ’n fout om Afrikaners te probeer dwing om tussen die twee te kies.

Die meeste mense in Suid-Afrika soek vrede en ’n veilige toekoms vir hul kinders. Afrikaners het ʼn grondwetlike reg om hul kultuur en erfenis te herdenk en uit te leef.

Indien versoening in Suid-Afrika beteken dat die verskillende volke en kultuurgroepe dit wat hul eie is, moet vernietig en opoffer, is dit nie werklike versoening nie, maar gedwonge assimilasie en kulturele uitwissing.

Suid-Afrika is ʼn multikulturele land met twaalf amptelike tale en dit moet eerbiedig, erken en gerespekteer word. Afrikaners het die reg om hulself te wees as trotse Afrikaners.

Die regering doen alles in sy vermoë om die geskiedenis van die Afrikaner verdag te maak en uit te wis. Daar rus dus ook ʼn plig op Afrikaners om hul geskiedenis aan hul kinders oor te dra. Dit word nie meer op skool gedoen nie.

In ’n land met baie tale en kulture moet elkeen trots wees op wie en wat hy of sy is. Indien daardie reg erken word, sal versoening vanself plaasvind.

Indien die Afrikanerjeug die aanslag kan weerstaan wat daar tans is om die Afrikaner se geskiedenis negatief en eensydig aan te bied ter wille van populisme, is daar hoop vir die Afrikaner se toekoms.

Die jongste aanslag is die Bela-wetgewing wat ons reg op moedertaalonderwys wil uitfaseer onder die dekmantel dat taalbeleid eksklusief aangewend word om swart kinders toelating by Afrikaanse skole te ontsê.

Afrikaners het oor eeue ʼn belangrike rol gespeel om Suid-Afrika op te bou tot voordeel van almal in die land. Afrikaners kan en moet trots wees op hierdie bydrae van opbou en hoef nie verskonend daaroor te wees nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.