Die VF Plus doen ʼn dringende beroep op die premier van die Vrystaat, Maqueen Mathae, om die provinsie tot rampgebied te verklaar weens die aanhoudende droogtetoestande wat veral die landbousektor swaar tref.
Groot dele van die provinsie, insluitend die Theunissen- en Bothaville-gebiede, ervaar tans ʼn kritieke droogte.
In Theunissen het die reënval die afgelope twee maande tussen 15mm en 40mm gewissel, terwyl ʼn hittegolf die meeste nuwe aanplantings vernietig het. Boere in die gebied sukkel om voldoende water aan hul vee te voorsien en in Bothaville wag boere steeds op opvolgreën om verder te plant.
Die Vrystaatse regering het ʼn plig om hierdie situasie daadwerklik aan te spreek deur die landbousektor te beskerm en te ondersteun.
Die VF Plus het in ʼn skriftelike versoek aan Mbalula benadruk dat sy ingevolge die Nasionale Rampbestuurswet gemagtig is om die droogte in die provinsie as ʼn provinsiale ramptoestand te verklaar.
ʼn Rampgebied-verklaring sal die benutting van staatsbronne moontlik maak om droogtehulp te verskaf.
Dit is belangrik dat boere direk by enige regeringshulp baat vind, aangesien hulle die swaarste finansiële – en produksieverliese tydens droogtes ly.
Die blote uitdeel van kospakkies aan plaaswerkers, hoewel belangrik, spreek nie die kern van die probleem aan nie.
ʼn Doeltreffende droogtehulpprogram moet gefokus wees op ondersteuning wat boere in staat stel om hul bedrywighede te herstel en volhoubaar te bestuur.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas om te verseker dat hierdie noodsaaklike hulp op die regte plekke en op die regte manier aangewend word.