Chaos het vandag in Sol Plaatje se munisipale raad geheers toe die ANC se kandidate vir nuwe burgemeester en speaker deur die raad gedwing is.
Dit volg nadat die vorige vergadering op Donderdag 25 November, toe hulle ingehuldig is en uiteindelik nie verkies is nie, nietig verklaar is. Die gronde vir die nietigverklaring is ‘n foutiewe kennisgewing van die vergadering.
Die vergadering het reeds op ‘n slegte noot begin toe ‘n waarnemende speaker verkies moes word om die vergadering te behartig. Die munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala, het in die afwesigheid van ‘n speaker die vergadering gekonstitueer en die aanwysing van ‘n waarnemende speaker behartig.
Hy het stemming met die opsteek van hande laat plaasvind, wat vir opposisiepartye onaanvaarbaar was. Boonop was dit onnodig aangesien die munisipale bestuurder kan voorsit om die permanente speaker te laat verkies, maar slegs indien die vergadering wettig is.
Aangesien die vergadering van 25 November nietig is, is me. Martha Bartlett en Dipuo Peters steeds nie wettige raadslede nie. Niemand kon hulle dus as burgemeester en speaker voorstel nie. Die ANC het egter daarop aangedring om hulle te nomineer.
As gevolg van dié nominasies het die vergadering in chaos ontaard. Sekuriteitspersoneel het die EFF se lede verwyder en daarna het die ANC sy meerderheid gebruik om die verkiesing deur te druk.
Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, het hulle reeds op sy Facebook-blad gelukgewens.
Die VF Plus verwerp hierdie optrede. ‘n Verkiesing wat nie tegnies korrek hanteer is nie, kan nie wettig wees nie. Terwyl die bedoeling was om mense wat respek verdien in hierdie poste aan te stel, sal hulle nou uit die staanspoor met die felste teenstand denkbaar te doen kry. Dit sou soveel makliker gewees het om hulle net eers op ‘n wettige wyse in te huldig.
Die VF Plus dring daarop aan dat die verkiesing van burgemeester en speaker nog ‘n keer plaasvind – en hierdie keer wettig.