Weens die versuim van die Nketoana-plaaslike munisipaliteit (Arlington, Lindley, Petrus Steyn, Reitz) beleef die inwoners van Arlington ʼn waterkrisis wat gaan voortduur deur die feesseisoen.
Die munisipale bestuurder, Kiddo Nhlapo, het verlede week op aandrang van die VF Plus Arlington besoek ná klagtes van inwoners wat al vir twee maande sonder water is.
Watertenks wat die munisipaliteit opgerig het, is onvoldoende om aan inwoners se waterbehoeftes te voldoen. Inwoners met boorgate en plaaslike boere probeer sover moontlik water voorsien aan ander inwoners.
Nhlapo het met die besoek onderneem om die Spoorwegdam buite die dorp wat reeds aan die watersuiweringswerke gekoppel is, te vergroot om meer reënwater op te vang om aan inwoners se behoeftes te voldoen.
Hy het verder onderneem om bykomende watertenks op te rig en vyf munisipale boorgate, wat al vir jare buite werking is, te herstel.
Tot op hede het daar dadels van die beloftes gekom en duur die waterkrisis voort.
Die konstruksiebedryf sluit ook sy bedrywighede oor net meer as ʼn week vir die feesseisoen en sal enige verbeterings- of herstelwerk eers met die aanvang van die nuwe jaar kan begin.
Die menseregtekommissie (MRK) het in ʼn onlangse verslag die munisipaliteit skuldig bevind aan verskeie oortredings insluitend die skending van artikels 27 en 152 van die Grondwet wat inwoners se reg tot toegang tot voldoende water waarborg en beskerm.
Die party sal tydens die vergaderings tussen die Vrystaatse wetgewer en die munisipaliteit oor die MRK se bevindings daarop aandring dat die munisipaliteit verantwoordelik gehou word vir sy nalatigheid.
Die VF Plus sal ook voortgaan om die munisipaliteit onder druk te plaas om sy plig teenoor inwoners na te kom en ten minste meer watertenks na die dorp te ontplooi.
Intussen staar ʼn droë en droewige feestyd die inwoners van Arlington in die gesig.