Plaasaanvalle soos die een vroeg vanoggend op die plaas Steenbokvlakte by Kirkwood in die Oos-Kaap, moet voor die deur van die ANC-regering gelê word aangesien dié soort misdaad tot ‘n groot mate beperk kan word indien spesialis-eenhede teen plaasaanvalle op die been gebring word.
Die boer, mnr. Johannes de Lange, is ernstig beseer in die aanval en word tans in ‘n hospitaal behandel. Een van die ses aanvallers is klaarblyklik dood en een gewond. Twee is gevang en twee is nog voortvlugtig.
Die VF Plus verwelkom die feit dat die gemeenskap van Kirkwood die polisie dadelik gehelp het om te soek na die vermeende aanvallers. Dit is nie bekend wat in die aanval geroof is nie.
Die roekelose uitsprake van die ANC-regering en ander partye met betrekking tot grond en onteiening is onverantwoordelik en sweep emosies op. Die VF Plus dring ook lank reeds daarop aan dat spesialis-eenhede gestig en ondersteun word om na die veiligheid van boere om te sien.
Die VF Plus sal aanhou om beswaar aan te teken teen plaasaanvalle en misdaad in die Oos-Kaap en sal deurlopend die nodige druk op die betrokke owerhede plaas om die veiligheid van inwoners in veral landelike gebiede te verseker.


