Daar is waarskynlik goeie nuus vir vuurwapen-eienaars wie se lisensies verstryk het. Uit ‘n parlementêre vraag vandag aan die minister van polisie, Bheki Cele, of hy dit sal oorweeg om 'n verdere amnestietydperk toe te staan vir die indiening van vuurwapens, het die minister gesê so ‘n versoek is “billik”.
Min. Cele het gesê die tweede en laaste amnestie-periode is erg ontwrig en dat baie vuurwapen-eienaars daardeur geraak is. Hy het gesê daar is steeds baie “papierwerk” rondom die vorige amnestieperiode wat op 31 Januarie vanjaar verstryk het, wat steeds nie afgehandel is nie.
Die warboel in die administrasieproses rondom die afhandeling van aansoeke om die hernuwing van vuurwapenlisensies, het twee weke gelede duidelik geblyk uit ‘n parlementêre ondersoek na die aangeleentheid.
Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, en sy span generaals, was nie eens in staat om aan die portefeuljekomitee oor polisie te sê hoeveel vuurwapens in die laaste amnestieperiode ingehandig is nie.
Die komitee het daarop aan die minister geskryf oor probleme rondom die amnestiesyfers, asook die onvermoë van die polisie om die groot agterstande by die Sentrale Vuurwapenregister uit te wis rakende die duisende lisensie-aansoeke van vuurwapen-eienaars wie se lisensies verval het.
Die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika, veral wat geweldsmisdade aanbetref, is ontstellend en dit sal onbillik wees om wetsgehoorsame burgers te ontwapen ten koste van misdadigers wat gewis nie hul vuurwapens sal inhandig nie, ongeag enige amnestie.
Van die probleme wat algemeen voorgekom het, was ‘n tekort aan voorgeskrewe vorms en aan polisie-personeel om die werk te doen.
Gegewe die aanslag teen boere, is dit veral belangrik dat hulle ‘n behoorlike en billike geleentheid gegun word om hul lisensies te hernu.
Die VF Plus vind die minister se antwoord bemoedigend, maar is van mening dat hy geen ander keuse het nie gegewe die onbevoegde wyse waarop die polisie die amnestie-proses hanteer het.