fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC bereid om mense onnodig te laat ly ter wille van transformasie

(Debat oor Oos-Kaapse provinsiale rede)

Die naamsverandering van stede, dorpe en lughawens in die Oos-Kaap soos Port Elizabeth, Maclear en Uitenhage, dien as bewys dat die regering goedkoop politiekery en sy mislukte ideologie belangriker ag as die finansiële krisis waarin die Oos-Kaap en Suid-Afrika hom bevind.

Nuwe plekname gaan geen bydra lewer tot volhoubare werkskepping of die sekuriteit van ‘n inkomste nie. Dit verbaas die VF Plus daarom nie dat die premier, Oscar Mabuyane, in sy provinsiale rede daaroor geswyg het nie.

Die ANC met sy mislukte ideologie toon dat hy bereid is om mense onnodig te laat ly ter wille van transformasie. Die koste verbonde aan die verandering van name is groot en die geld kan eerder aangewend word om ekonomiese verligting op grondvlak in die provinsie te bring.

Die premier het soos verlede jaar geen voorstelle gemaak om wanfunksionele munisipaliteite reg te ruk nie. Hy wend ook geen poging aan om munisipaliteite aan te spreek oor hul gebrek aan dienslewering, om hoë salaris- en loonrekeninge te besnoei of om onreëlmatige en ongemagtigde uitgawes te staak nie.

Die VF Plus is van mening dat dit niks beteken om voort te gaan om munisipaliteite te ondersteun deur stelsels in finansiële bestuur, infrastruktuurbeplanning en implementering te versterk nie as korrupsie, bedrog, onreëlmatige en ongemagtigde uitgawes nie uitgeroei word nie.

Die premier beur ook voort met die implementering van die Magwa-Majola Agri-Ecotourism-projek as ‘n volhoubare toerisme aantreklikheid al het dit misluk as ‘n teeplantasie omdat dit nie ekonomies volhoubaar was nie.

Tog beplan die premier om voort te gaan om swaar verdiende belastinggeld op die projek te bestee sonder dat die sukses daarvan gewaarborg is. Die VF Plus sal eerder wil sien dat die geld aangewend word om die toerismebedryf in die Oos-Kaap te help om weer op sy voete te kom ná die Covid-19-pandemie en werknemers wat hul werk verloor het, weer in diens te neem.

Ten spyte van die premier se erkenning dat die beskikbaarheid van water een van die provinsie se grootste uitdagings is en dit ook die ekonomiese groeipotensiaal van die provinsie ondermyn, het hy geen melding gemaak oor die invloed van waterverliese nie.

Waterverliese weens waterlekkasies in die metrorade is meer as 50% van die gewone waterverbruik. Tog is daar geen erns om die situasie om te keer nie.

Eerder as om munisipaliteite verantwoordelik te hou om lekkasies te herstel en waterinfrastruktuur op te gradeer, word verbruikers gestraf met verhoogde tariewe en deur waterbeperkers aan hul watermeters aan te bring.

Ondanks die indrukwekkende verslag van die premier rakende die departement van onderwys, is die departement onder groot druk weens begrotingstekorte en veral weens die nie-samewerking en swak dienslewering van ander departemente soos openbare werke, vervoer en waterwese wat nie hul deel bydrae om skole te verbeter en op te gradeer nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.