Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Inwoners van kleinhoewes by Bela-Bela al tien dae kragloos

Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan Limpopo se LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (CoCHSTA), Basikopo Makamu, nadat die party geen reaksie uit die Bela-Bela-plaaslike munisipaliteit (Bela-Bela, Pienaarsrivier) kon kry oor die voortslepende kragkrisis waaronder die inwoners van die Noodhulp- en Roodepoort-kleinhoewes gebuk gaan nie.

Die kleinhoewes is sedert 21 Februarie sonder krag nadat die munisipaliteit versuim het om ‘n stukkende transformator te vervang wat die gebiede van krag voorsien.

Die munisipaliteit is telkens gewaarsku dat die transformator nie meer herstel kan word nie en vervang moet word. Dié waarskuwing het op dowe ore geval.

Volgens inligting wat die VF Plus bekom het, is daar wel ‘n transformator beskikbaar, maar die munisipaliteit het nog nie die betaling daarvoor gemagtig nie.

Gesien in die lig van die benarde finansiële toestand waarin dié munisipaliteit hom bevind, sal geen verskaffer van dienste of goedere dit op krediet aan die munisipaliteit lewer nie.

Intussen ly die mens en dier onder die gebrek aan krag. Die meeste van die inwoners maak van dompelpompe gebruik om water te pomp, maar weens die feit dat daar geen elektrisiteit is nie, is baie van die inwoners sonder water of moet water aankoop om net in hul basiese behoeftes te voorsien.

Sakelui in die omgewing wat reeds deur die Covid-19-inperking op hul knieë gedwing is, staar ook finansiële ondergang in die gesig. Kampeerareas moes reeds al hul besprekings kanselleer vir ‘n onbeperkte tydperk.

Bela-Bela is ‘n toerismedorp, maar teen die trant waarop dié dorp agteruitgaan sal geen besoeker meer dié dorp ondersteun nie. Die agteruitgang kan net gelê word voor die deur van onbevoegde amptenare wat die munisipaliteit se finansies soos hul eie spaarvarkie bestuur.

Indien die LUR nie spoedig aan die saak aandag gee nie, sal die VF Plus die saak met die nasionale ministers vir Cogta opneem.

Hierdie is ‘n growwe menseregteskending deur die munisipaliteit. Inwoners betaal getrou hul belasting aan die munisipaliteit en verdien die dienste waarvoor hulle ten duurste betaal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.