fbpx
Vryheidsfront Plus

Parlementêre begrotingsdebat: Nasionale Tesourie – Niks sal die land regruk solank die ANC regeer nie

Net soos die staatspresident, droom die VF Plus ook van ‘n welvarende Suid-Afrika vir al sy mense. ‘n Land waar die ekonomie groei en armoede uitgewis word. Waar beleidsekerheid is om gelykheid te bevorder en ‘n omgewing vir die privaatsektor te skep waarin die ekonomie kan groei. Dit sal egter nooit gebeur solank die ANC regeer nie.

Ons droom van ‘n land sonder bodemlose putte soos die huidige openbare ondernemings waarin belastinggeld verdwyn, waar ondernemings soos Eskom en SAA geprivatiseer word, waar munisipaliteite, dorpe en stede funksioneer onder goeie bestuur en befondste begrotings, en waar dienste aan die mense van die land gelewer word.

Ons droom van ‘n land wat nie ‘n welsynstaat is waar mense afhanklik gehou word van maatskaplike toelaes vir politieke gewin nie, waar ‘n fiskale kommissie bestaan wat onafhanklik kan funksioneer soos die Reserwebank om die BTW-koers te bepaal ingevolge staatsuitgawes om staatsuitgawes sodoende aan bande te lê.

Ons droom van ‘n parlement wat nie net ‘n rubberstempel is nie, maar wat ‘n ware oorsigrol oor begrotings vertolk en dit deeglik ontleed sodat dit aangepas kan word indien nodig.

Ons droom van ‘n land waar nasionale tesourie se programme daarop gemik is om munisipaliteite en provinsies waarlik te help en wat tot uitvoer gebring en afgehandel word.

Die VF Plus droom van ‘n land sonder e-tol en die oorbelasting van die publiek en sake-ondernemings wat ‘n bose kringloop is wat sy eie belastingbron en die ekonomie vernietig. Ons droom van ‘n land waar daar nie ‘n korrupte en onnodige padongelukkefonds is as deel van die brandstofheffing nie, maar eerder ‘n verpligte derdepartyversekering vir motoreienaars.

Ons droom van verantwoordelike regering waar nie net sy tesourie iets doen en uitwys wat verkeerd is nie, maar waar verantwoording bestaan. Waar die land se rykdom al sy mense beskore is, nie net ‘n klein, politieke elite nie.

Maar nie die beste plan of die bekwaamste minister sal ‘n aks verskil maak solank die ANC aan bewind is nie. Enige minister sal magteloos staan voor die korrupsie en wanbestuur van sy eie party.

Tesourie is ‘n voorbeeld. Hy doen goeie werk en sy programme is goed, maar dit dra geen vrug nie. Dit sal ook nie solank kaderontplooiing bekwame amptenare by instellings soos munisipaliteite en elders vervang nie.

Raak ontslae van die ANC. Dit is die enigste medisyne wat die land weer gesond sal kry.

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.