Net ekonomiese groei kan werk skep. Die kleinsake-sektor en die ontwikkeling daarvan is in hierdie opsig van kardinale belang om groei te bewerkstellig en terselfdertyd werk te skep. Tog rol die regering deur wetgewing en beleid klip na klip in die pad van kleinsake-ontwikkeling in Suid-Afrika.
Die regering kan nie self klein-sakeondernemings vestig nie, maar kan slegs ‘n klimaat skep waarin ondernemings gevestig word deur gewillige entrepreneurs wat bereid is om die risiko te neem, mits daar ‘n omgewing is waarin hulle suksesvol kan wees en waar die regering so min as moontlik inmeng buiten vir gesonde vryemark-inisiatiewe.
Dit is daarom noodsaaklik dat die departement in die beste belang van klein tot medium sake-ondernemings optree en bande smee met die mededingingskommissie om alle onregverdige monopolieë te stuit wat kleiner ondernemings striem.
Verder is dit noodsaaklik dat die departement die kampioen word vir die veldtog; Trots Suid Afrikaans, sodat die verbruiker plaaslike produkte koop wat sal bydra tot ekonomiese groei.
Tenders is een van die klippe in die pad van kleinsake-ontwikkeling. Die betalingstelsel van 90 tot 120 dae nadat die werk vir staatstenders gedoen is, maak dit vir ondernemings wat afhanklik is van kontantvloei, haas onmoontlik. Dit is buiten die omvang van tenderbedrog, wat welbekend is.
Die term regering is ‘n kollektiewe term en is die rede waarom alle departemente saam die regering vorm en een doel moet hê, naamlik om namens die burgers die beste moontlike oplossings te vind vir probleme. Klein- en mediumgroot-sakeondernemings verwag dat alle departemente moet saamwerk om ‘n omgewing te skep waarin hulle volhoubaar kan bestaan.
In dié proses is dienslewering en faktore soos volhoubare kraglewering en infrastruktuur van kritieke belang. Plaaslike regering moet seker maak dat riool nie verby die voordeur van ‘n onderneming loop nie, maar dat dienste gelewer word waarvoor betaal word.
Daadwerklike optrede teen stakings wat elke dag meer misdadig raak en die ekonomie daarvan weerhou om te groei en produkte te lewer weens die sluiting van toegangsroetes, veroorsaak groot verliese vir alle sake-ondernemings. Die kleiner ondernemings kan dit die minste van almal bekostig.
‘n Verdere klip in die weg van sake is burokratiese rompslomp en dan is daar twee yslike rotse genaamd Swart Ekonomiese Bemagtiging (EB) en Regstellende Aksie (RA) wat ‘n vernietigende effek het op die ekonomie.
Die regering moet deel van die oplossing wees wat ekonomiese groei aanbetref, en nie grotendeels die probleem soos die ANC-regering tans is nie.
Die VF Plus salueer alle klein- en medium-sakeondernemings wat nieteenstaande al die klippe wat die regering in sy pad rol, steeds ‘n allerbelangrike bydrae lewer om Suid-Afrika se ekonomie aan die gang te hou.
Kontaknommer: 079 409 8342