fbpx
Vryheidsfront Plus

Dealesville-plaasmoord – egpaar vermoor, maar ANC ontken steeds dis ‘n werklikheid

Met elke dag wat verbygaan sonder dat die ANC wil erken dat plaasaanvalle en -moorde ‘n werklikheid is, sal boere aanhou vermoor word.

Die moord op Sakkie en Ina van der Berg op hul plaas in die Boshoff/Dealesville-distrik die afgelope naweek is bewys dat plaasmoorde in Suid-Afrika buite beheer is.

Daar was volgens die Transvaalse Landbou-unie (TLU) se syfers reeds meer as 60 plaasmoorde en 217 plaasaanvalle net in die eerste helfte van 2019.

Nóg president, Cyril Ramaphosa, nóg die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, wou in hul afgelope staats- en provinsiale openingsredes erken dat die regering se gebrek aan landelike beveiliging ‘n bedreiging vir boere se veiligheid en voedselsekerheid inhou.

Die ANC fokus op bendegeweld en ontplooi die weermag om dit te ontlont, maar ignoreer boere se pleidooie om ook hulle veiligheid te verseker.

Die ANC verkies om op die verlede te fokus en die persepsie te skep dat boere skurke is wat grond gesteel het.

Dit is ‘n gevaarlike boodskap wat boere se veiligheid in gedrang bring.

Suid-Afrika sal ‘n nes van plaasaanvalle en -moorde bly indien die ANC voortgaan om boere die skuld te gee vir sy mislukkings.

Die VF Plus sal die komende week in die Vrystaatse wetgewer tydens die debat van die departement van polisie, paaie en vervoer eis dat die departement die minister van polisie , Bheki Cele, versoek om bykomende hulpbronne beskikbaar te stel om landelike beveiligingseenhede in die provinsie te vestig.

Die Vrystaatse regering kan met so ‘n versoek boere se veiligheid verseker, aangesien die minister van polisie verlede week in sy begroting aangedui het hy wil fokus op gespesialiseerde, intelligensie-gedrewe polisiëring.

Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen plaasmoorde en -aanvalle en doen opnuut ‘n beroep op landelike gemeenskappe om hulself te organiseer en hul veiligheidsmaatreëls op te skerp.

 

Kontaknommer: 083 743 2042

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.