Afrikaanse universiteite verteenwoordig 'n erfenis van dekolonisasie en breedgebaseerde ekonomiese bemagtiging. Daarom is dit tot nadeel van die hele land, nie net Afrikaanssprekendes nie, dat die ANC-regering dit byna vernietig het.
Die VF Plus begryp die ANC se behoefte tot transformasie en breedgebaseerde ekonomiese bemagtiging. Na die vernietiging van die Anglo-Boereoorlog was daar nie ruimte vir individualistiese liberalisme nie. Families en gemeenskappe moes saamstaan om ten minste sommige kinders geleerd te kry.
Uit skole wat nie aan internasionale standaarde voldoen het nie, is Afrikanerkinders na universiteite waarop hul Engelse tydgenote neergesien het. Omdat hierdie instellings die Afrikaanse jongmens in sy eie taal aan die wêreld van wetenskap bekendgestel het, kon kinders uit die allernederigste omgewings uitstyg tot internasionaal-erkende wetenskaplikes.
Individuele toppresteerders is egter nie die belangrikste kenmerk nie.
Wat belangriker is, is dat 'n breë basis van goed gekwalifiseerde mense geskep is, wat die standaard en aansien van hul universiteite ook verhoog het. Die instellings het die mense opgehef, en dan die mense weer die instellings.
Terwyl die rol van die staat erken word, het dit heel anders verloop.
Beurse is deur die onderwysdepartement gekanaliseer en vir elke studiejaar moes 'n nuut gekwalifiseerde een jaar skoolhou. Sommige het in die onderwys gebly en ander het nuwe terreine betree.
Die gesindheid waarmee staatshulp aanvaar is, was dié van dankbaarheid en nie eiegeregtigheid, of in Engels "entitlement" nie.
Volgens die VF Plus is dit rampspoedig dat die ANC-regering liewer besluit het om Afrikaans as taal van hoër onderwys te vernietig, as om iets uit die opkoms daarvan te probeer leer.
Kontaknommer: 074 166 5540


