Die uitlating van ‘n EFF-lid dat Afrikaans ‘n afstootlike taal is, is ‘n belediging vir alle sprekers van dié taal. Vir die VF Plus is Suid-Afrika ‘n tapisserie van gemeenskappe met verskeie pragtige tale en kulture wat almal gerespekteer, gewaardeer en bevorder behoort te word.
In die lig hiervan is dit duidelik hoe belangrik die mandaat van die departement van sport, kuns en kultuur is om nasiebou deur die bevordering van taal en kultuur te bevorder soos uitgespel in die Nasionale Ontwikkelingsplan.
Die Verenigde Nasies het 2019 as die internasionale jaar van inheemse tale verklaar. Dit het ten doel om bewustheid van die belangrikheid van inheemse tale te skep – nie net onder sprekers van inheemse tale nie, maar ook om ander bewus te maak en waardering te kweek vir die belangrike bydrae wat hierdie tale lewer tot die ryk kultuurerfenis van die wêreld waarin ons leef.
Die belangrikheid van inheemse tale is ook in Suid-Afrika se Grondwet verskans en moet ten alle koste beskerm en bevorder word.
Dit is 'n mite dat 'n taal sal oorleef solank dit gepraat word. Die realiteit is dat daar tale is wat daagliks verdwyn omdat hulle nie die krag en middele het om stand te hou teen meer dominante tale nie. Die bewaring en ontwikkeling van die hoër funksies van Suid-Afrika se elf amptelike tale moet geprioritiseer word. Opvoedingsmediums moet dus uitgebrei word om meer tale in te sluit.
Die VF Plus veroordeel die toenemende verengelsing ten koste van inheemse tale op die gebied van onderwys en in politieke- en openbare instellings onder die dekmantel van internasionale handel. Geen taal is verhewe bo ‘n ander nie.
Dit is sinneloos vir die regering om in 2012 'n beraad oor sosiale kohesie een te bied en dan niks te doen aan die uitvoering van die besluite wat daar geneem is nie. Dit help ook nie om byna 90% van 'n program se begroting vir die ontwikkeling van kuns en kultuur te betaal sonder om seker te maak dit word uitgevoer nie.
‘n Voorbeeld is die Mzansi Golden Economy (MGE)-projek wat dit ten doel het om tot ekonomiese ontwikkeling en werkskepping by te dra waar R100 miljoen sonder goedkeuring uitbetaal is en moontlik verlore is. Die VF Plus wil weet wat van dié geld geword het.
Befondsing moet billik wees wat kulturele aangeleenthede en musiekvorme aanbetref. Minderhede soos die Maleiers, die Khoi, San en die Afrikaners trek hier aan die kortste ent. Daar was ook nie geld vir die filharmoniese orkeste van Kaapstad en KwaZulu-Natal nie terwyl ander musiek- en kunsvorme mildelik gehelp is.
Die departement kan Suid-Afrikaners nie wedersydse respek aanleer nie, maar kan dit bevorder deur ‘n voorbeeld van verdraagsaamheid en gelyke bevordering van alle tale en kulture. Onder ‘n ANC-regering gebeur dit nie.
Kontaknommer: 072 997 8315