Die VF Plus is gister tydens ʼn vergadering van die infrastruktuurkomitee van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein), ingelig dat die herstel van paaie en strate in die munisipale gebied grootliks opgeskort is weens ʼn geldtekort.
Noodsaaklike voorraad soos teer kan nie aangekoop word nie.
Die munisipaliteit het aangedui dat herstelwerk aan paaie en strate eers in Julie met die aanvang van die nuwe finansiële jaar ten volle hervat kan word.
Herstelwerk word tans net in twee areas gedoen deur kontrakteurs wat bereid is om voort te gaan met die werk en eers vanaf Julie weer betalings te ontvang.
Dit is duidelik dat daar onvoldoende begrotingsbeplanning in die munisipaliteit gedoen is. Dit is onaanvaarbaar in ʼn munisipaliteit wat homself deurlopend as ʼn “stad” voordoen.
Die VF Plus het ook tydens die vergadering daarop aangedring dat kontrakteurs aanspreeklik gehou word vir die swak gehalte van nuwe paaie en strate wat onlangs voltooi is, maar reeds vol slaggate is.
Hierdie stand van sake belig weereens die gebrek aan professionele beplanning, bestuur en die nodige prioritisering van noodsaaklike infrastruktuur in hierdie ANC-beheerde munisipaliteit.
Die verval van die pad- en straatinfrastruktuur in Matlosana het ʼn rampspoedige uitwerking op die plaaslike sakesektor en skrik voornemende beleggers in die munisipale gebied af met die gevolg dat daar van volhoubare werkskepping geen sprake meer is nie.
Inwoners van Matlosana ly reeds lank onder die geleidelike verval van hul dorpe weens die swak bestuur, kaderontplooiing en korrupsie onder opeenvolgende ANC-administrasies.
Die inwoners van dié gebied verdien beter as die ANC.