Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus steun sloping van Haven-nagskuiling in Bellville

Die VF Plus steun die sloping van die Haven-nagskuiling by die Tienie Meyer-brug in Bellville. Die gebou het deel geword van ’n groter krisis in die gebied.

Die party het hierdie besluit nie ligtelik geneem nie. Die gebou is ernstig gevandaliseer, is onveilig en kos die Stad Kaapstad tans bykans R170 000 per maand net aan sekuriteit.

Ondanks hierdie groot uitgawe word dit steeds gevandaliseer en gestroop. Dit is nie volhoubaar nie.

Belastingbetalers kan nie aanhou om ’n gebou te beveilig wat ’n teiken vir vandalisme en misdade aktiwiteite geword het nie.

Die Haven-nagskuiling het in die verlede ’n belangrike rol gespeel. Dit het lank voor die huidige krisis by die Tienie Meyer-brug al bestaan. Haven se veldwerkers het dag en nag, dikwels met groot risiko, geharde dwelmgebruikers en mense in misdaad en prostitusie bereik en probeer rehabiliteer.

Wat eens ’n plek van hulp was, het egter self deel van die groter probleem geword.

Die situasie by die Tienie Meyer-brug is besonder kompleks. Die grond daar behoort aan verskillende partye – die Stad Kaapstad, Prasa en Transnet. Dit het gelei tot langdurige regstryde tussen die metro, Prasa en nieregeringsorganisasies (NRO’s) oor die verwydering van onwettige strukture.

Terwyl hierdie sake in die howe voortsleep, versleg die toestande op grondvlak. Hawelose mense bly blootgestel aan misdaad, dwelms en uitbuiting, terwyl inwoners, ondernemings en pendelaars die gevolge dra.

Die VF Plus doen daarom ’n beroep op alle regeringsrolspelers om ’n permanente, multidissiplinêre taakspan aan te stel wat die hele krisis in Bellville daadwerklik aanpak.

Daar moet proaktief eerder as reaktief opgetree word. Vroeër en beslister optrede sou miljoene rande kon bespaar.

Die party glo Bellville kan herstel word en hoef nie die vergete kind van die Stad Kaapstad te bly nie.

Met korrekte koördinering, wetstoepassing, rehabilitasie en politieke wil, kan die gebied weer veilig en leefbaar gemaak word vir inwoners, ondernemings én kwesbare mense.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.