‘n Sitting van die munisipale raad van die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit is vandag weer ontwrig deur ANC- en EFF-raadslede.
Dit was die derde keer sedert Junie wat die vergadering weens ontwrigtings nie kon voortgaan nie.
Die opstokers het vandag die bywoningsregister opgeskeur en onder meer geëis dat raadsbesluite eers ná die uitslag van die komende plaaslike regeringsverkiesing geneem word.
Belangrike beleidsbesluite en die goedkeuring van noodsaaklike munisipale verordeninge om die munisipaliteit te laat funksioneer, word deur hierdie optrede in die wiele gery.
Dit vind ook plaas ten spyte van direkte provinsiale regeringsingryping by die munisipaliteit.
Ditsobotla word jare reeds deur dieselfde faksies geteister met die uitsluitlike doel om hul eie belange van te bevorder ten koste van dienslewering.
Die VF Plus het die vergadering weens veiligheidsoorwegings verlaat nadat die speaker, Manana Bogatsu, nie daarin kon slaag om orde te herstel nie.
Wetteloosheid en grootskaalse korrupsie in Ditsobotla is reeds lank aan die orde van die dag.
Dit is noodsaaklik dat die ontplooide regeringsverteenwoordigers in die munisipaliteit hul uitgebreide mandaat ten volle benut om op te tree teen hierdie faksies en streng stappe neem om dit te voorkom.
Die inwoners van Lichtenburg, Coligny en Biesiesvlei wat reeds vir jare hieronder ly, moet in November met hul stemme seker maak dat hierdie partye finaal uit plaaslike regering verwyder word.
Die VF Plus sal voortgaan om te stry vir die herstel van ‘n geordende en professionele munisipale administrasie in Ditsobotla wat die belange van die inwoners vooropstel.


