Die Tshwane-metro het ’n eksterne waardeerder teen R10 000 aangestel om ’n eiendom van 53 m² in Clubview, Pretoria, te waardeer terwyl die grond self slegs R5 600 werd is. Die waardasie kos byna dubbel soveel as die eiendom.
Die bedrag is nie groot nie, maar dit is ʼn goeie voorbeeld van die blatante vermorsing van belastingbetalers se geld. Boonop het professionele amptenare van twee interne departement van die metro reeds die eiendom gewaardeer wat die aanstelling van ʼn eksterne waardeerder onnodig gemaak het.
Geen verantwoordelike raad behoort sulke onnodige besteding goed te keur nie. Die VF Plus het ernstige vrae geopper oor watter kontroles bestaan om hierdie soort burokratiese vermorsing in die toekoms te voorkom.
Hierdie tipe besluitneming ondermyn inwoners se vertroue en tas die integriteit van die raad aan. Dit laat ook die vraag ontstaan waarom dit in die eerste plek goedgekeur word.
Die VF Plus het uit beginsel ’n afwykende stem formeel laat notuleer om sterk standpunt in te neem teen die vermorsing van openbare fondse


