Die VF Plus het ‘n dringende vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir hoër onderwys, wetenskap en innovering versoek nadat die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) weer geruk is met nuwe bewerings van korrupsie.
Die bewering word gemaak deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en betrek sowel die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, as die voorsitter van die NSFAS-raad, mnr. Ernest Khosa.
NSFAS is sedert dit in 2018 die ANC-belofte van gratis hoër onderwys moes waar maak, voortdurend in ‘n noodtoestand. Daar is onophoudelik ‘n wolk van korrupsie wat oor die skema en sy begroting van meer as R40 miljard hang.
Die huidige raad is in 2021 aangestel nadat NSFAS vir twee jaar onder administrasie was. Om die minister en die voorsitter te beskuldig dat hulle omkoopgeld ontvang het, is baie ernstig. Nzimande het dit reeds ontken.
Die portefeuljekomitee, wie se plig dit is om die minister sowel as die departement en entiteite binne die departement (soos NSFAS) verantwoordbaar te hou, het hier ‘n duidelike plig om na te kom.
Outa het wel sy verslag aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) oorhandig en die portefeuljekomitee kan nie met daardie ondersoek inmeng nie. Dit beteken egter nie dat die komitee die situasie kan ignoreer nie.