Terwyl daar groot druk is op wettige, private vuurwapenbesit, is die staat self ʼn groot bron van vuurwapenverskaffing aan misdadigers met weinig erns om dit te keer.
Dit blyk uit vrae wat die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, gerig het aan die ministers van verdediging en militêre veterane, die polisie asook justisie en korrektiewe dienste, oor onder meer staatsvuurwapens wat verlore geraak het of gesteel is. (Vrae en antwoorde hierby aangeheg).
Wat opval uit die antwoorde, is die ligte strawwe wat opgelê word aan lede van die departemente weens die verlies of diefstal van vuurwapens en/of ammunisie.
In sommige gevalle is skuldige lede met ʼn enkele maand se salaris gestraf of net skriftelik gewaarsku wat duidelik nie as afskrikmiddel sal dien nie.
Dit bly ook dat daar erg voete gesleep word met die ondersoek en vervolging van lede wat die indruk verskerp dat geen ware erns bestaan om vuurwapendiefstal daadwerklik stop te sit nie.
Die departement van verdediging se voorsorgmaatreëls is boonop grootliks gerig op die herstel van stukkende heinings en opgeskerpte heiningsekuriteit.
Dit sal weinig help om die diefstal of verlies van vuurwapens en ammunisie van binne die departement self te voorkom.
Hierdie situasie sluit aan by die gebeure rondom die voormalige polisiekolonel Christiaan Prinsloo wat daaraan skuldig bevind is dat hy vuurwapens in polisiebesit gesteel en aan bendes verkoop het.
Prinsloo het luidens mediaberigte skaars drie jaar en tien maande van ʼn vonnis van agtien jaar uitgedien.
Vrae van die VF Plus aan die minister van polisie oor misdade wat tot dusver met die gesteelde wapens gepleeg is, is nie beantwoord nie aangesien die inligting deel vorm van ʼn klasaksie van naasbestaandes van slagoffers teen die polisie.
Die saak sloer ook reeds sedert vroeg verlede jaar. Wat wel uit mediaberigte bekend is, is dat van die 2 000 gesteelde vuurwapens teen 2016 reeds gekoppel is aan die dood van 89 kinders terwyl 170 kinders daarmee gewond is.
Die VF Plus sal vra dat hierdie antwoorde verskaf word sodra die klasaksie afgehandel is.
By die weermag is 42 vuurwapens sedert die boekjaar 2019 tot einde verlede jaar gesteel. Kommerwekkend is dat 33 hiervan R4- en R1-aanvalsgewere is. Meer as 3 000 rondtes ammunisie vir die aanvalsgewere is ook gesteel.
Die ander wapens is hoofsaaklik handwapens. Ook hier is bykans 3 000 rondtes ammunisie gesteel.
Slegs vyf weermaglede is suksesvol aangekla. Die res van die sake is steeds onafgehandel of daar is nie vervolging ingestel nie.
Wat justisie en korrektiewe dienste aanbetref, was daar sedert die boekjaar 2019 tot einde verlede jaar 19 voorvalle waarin 18 handwapens en 295 rondtes ammunisie gesteel is of verlore geraak het.
Twee lede is afgedank. Die ander is gewaarsku of het hoogstens ʼn maand se salaris verbeur. Voorkomende stappe sluit in maandelikse inspeksies en die daaglikse inhandiging van vuurwapens.
Hierdie inligting maak dit duidelik dat die probleem groot is en die optrede, vervolging en voorsorg min. Intussen is daar ʼn stroom gevaarlike vuurwapens van die staat wat in misdadigers se hande beland.
Die situasie kan gou omgekeer word indien die staat met dieselfde ywer optree as sy pogings om wettige, private vuurwapenbesit te kriminaliseer.


