Minister Ronald Lamola se aankondiging dat hy die strafproses en strafregstelsel in Suid-Afrika in totaliteit wil hervorm, is ʼn roekelose en benoude poging van die ANC-regering om polities te oorleef, selfs al sal dit ʼn ramp veroorsaak met onmeetbare skade aan regspleging in Suid-Afrika.
Die blote aanwysing van ʼn advieskomitee bestaande uit akademici en regspraktisyns, bygestaan deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die polisie en Regshulp Suid-Afrika, kan nie komplekse en funksionerende wetgewing wat oor ʼn lang tyd in plek is, vervang nie.
Strafreg- en strafproses in Suid-Afrika het oor baie jare ontwikkel, word van tyd tot tyd aangepas en bestaan uit meer as 350 artikels wat elkeen ʼn bepaalde aspek van die reg aanspreek waaroor talle navorsing en tesisse oor jare gepubliseer is.
Die parlement word egter telkens gekonfronteer met ondeurdagte wetswysigings wat keer op keer na komitees terugverwys word en dikwels ook lei tot duur en uitgerekte Grondwethofsake.
Hierdie ondeurdagte wetswysigings word dikwels aangevuur deur politieke ideologie en blaamverskuiwing. In ʼn voorverkiesingsjaar is dit duidelik ʼn desperate poging om verlore politieke aansien te herwin.
Die strafregstelsel steier vir ʼn geruime tyd reeds onder die las van toenemende misdaad, swak regering, beurtkrag, ontoereikende kapasiteit van howe, oorvol hofrolle, swak ondersoekwerk en die NVG.
Om nou die leemtes in bestaande wetgewing as rede aan te voer, dui op ʼn gebrek aan visie en verantwoordbaarheid.
Lamola het met die jongste aankondiging bevestig dat hy totaal uit sy diepte is en nie in staat is om die werklike oorsaak van swak regspleging op ʼn verantwoordelike wyse aan te spreek en te bestuur nie.
Die VF Plus beywer homself vir ʼn dringende regeringsverandering in 2024 om ook die regsprekende gesag van Suid-Afrika uit die hande van ʼn onbekwame ANC-regering te red.