Inwoners van die Merafong City-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) gaan die feesseisoen met ʼn watertekort binne nadat Randwater besluit het om die watertoevoer na die munisipaliteit met sowat 70% te verminder.
Randwater se besluit het daartoe gelei dat die watervlakke van reservoirs tot 38% gedaal het. Die toevoer kan alleenlik verhoog word wanneer reservoirs ʼn inhoudsmaat van 60% bereik.
Intussen is inwoners in ʼn kennisgewing gewaarsku om water spaarsamig te gebruik.
Randwater bestempel Merafong as een van die swakste betalende munisipaliteit in Gauteng. Sy skuld aan Randwater beloop R721 086 096.
Randwater het by verskeie geleenthede ʼn ooreenkoms met Merafong aangegaan, maar dit is nie nagekom nie. Intussen hoop die skuld op.
Die VF Plus het die munisipaliteit by verskeie geleenthede gewaarsku om sy ooreenkoms na te kom, maar dit word nie gedoen nie.
Intussen het die ANC-beheerde munisipaliteit besluit om ʼn onderburgemeester, Mogomotsi Sello, aan te stel wat die belastingbetalers sowat R1 miljoen per jaar sal kos.
Die geld kon aangewend gewees het om die skuld aan Randwater te help delg.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om sy skuld aan groot diensverskaffers te betaal om sulke drastiese stappe te vermy.
Die enigste oplossing is om die ANC in Gauteng volgende jaar by die stembus te verslaan en plek te maak vir ʼn koalisieregering wat die belastingbetaler se belange op die hart dra.