(Gelofteboodskap: Dr. Pieter Groenewald, Perdeberg, Petrusburg, Vrystaat)
Die simboliek van die Voortrekkergelofte van 1838 maak dit vandag, 185 jaar later, net so relevant vir die Afrikaner en ander minderhede wat in die pad staan van die ANC se vernietiging van Suid-Afrika.
Die tyd het daarom aangebreek om die gelofte en sy betekenis met ware erns te herbesoek.
Vir die VF Plus was en is die gelofte ʼn smeekgebed tot die Allerhoogste om oorlewing en ʼn toekoms in ʼn land waar almal in vrede kan woon en werk. Sonder vrees of onderdrukking.
Die Voortrekkers wou ʼn oplossing deur geweld ten alle koste vermy. Hul leier, Andries Pretorius, het tot kort voor die slag boodskappe aan koning Dingaan gestuur om te vra dat daar eerder onderhandel moet word as om oorlog te maak.
Hy het nogtans gesê dat die Voortrekkers bereid was om tot die dood te veg sou Dingaan oorlog verkies.
Soos in 1838 het die tyd vir alle regdenkende Suid-Afrikaners aangebreek om hande te vat teen ʼn regering wat besig is om hul toekoms en drome te vernietig ten koste van homself.
Landsburgers wat saamgesnoer word deur dieselfde ideale en waardes, het die afgelope dertig jaar talle pleidooie hieroor tot die ANC gerig. Dit het op dowe ore val. Aanstaande jaar se verkiesing kan die situasie verander.
Wat die viering van Geloftedag aanbetref, glo die VF Plus dat dit nie teenoor Versoeningsdag gestel kan word nie. Die geleentheid moet eerder benut word om ‘n wen-wen-situasie vir almal te skep.
Vir die Afrikaner is Geloftedag nie ’n dag wat ’n regering of politieke party geskep het nie. Op dié dag word ’n heilige gelofte herdenk en geen regering kan voorskryf oor die waarde wat daaraan geheg moet word nie.
Sou die regering versoening op dié dag wil vier, is dit sy reg. Die Afrikaner was nog nooit teen versoening met ander volkere in Suid-Afrika nie. Elke persoon het die grondwetlike reg om sy kultuur op sy manier te vier en te gedenk.
Soos Pretorius in 1838 streef die VF Plus ook na versoening; ware versoening waar almal mekaar se verskille en unieke karakter soos taal, kultuur en erfenis, met wedersydse respek behandel.
Daarsonder kan geen versoening wees nie, net kulturele uitwissing en totale oorheersing deur die meerderheid.
Die Afrikaner, en veral die Afrikanerjeug, word wysgemaak dat hul geskiedenis ʼn klad op Suid-Afrika se naam is en dat hulle inderwaarheid skaam moet wees vir hul herkoms.
Niks kan verder van die waarheid wees nie. Geslagte wat hulle met die erfenis van Bloedrivier vereenselwig het, het die land uit niks opgebou tot ʼn vooruitstrewende tuiste vir al sy inwoners.
Die jeug moet geleer word dat die Afrikaner met die hulp van die Allerhoogste deur moeilike tye en oënskynlik onoorkombare uitdagings kon kom en dat hulle met reg daarop trots mag wees.
Ons beleef tans baie uitdaging en bedreigings in Suid-Afrika, maar moet altyd ons hoop vestig op die Hemelse Vader net soos die Voortrekkers dit op hierdie dag in 1838 gedoen het.