Die VF Plus steun om verskeie redes belangegroepe se kommer oor die beplande snelweg deur digbewoonde gebiede van Nelspruit/Mbombela in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier).
Die VF Plus dring daarop aan dat die munisipaliteit onmiddellik dié projek en oordrag van die woongebiede aan Sanral staak en in gesprek tree met die onderskeie belangegroepe en inwoners.
Tydens die Mbombela-raadsvergadering van 14 Desember het die munisipaliteit die raad versoek om die oorhandiging van sekere gedeeltes grond tussen Stonehenge en Ntulo-Wildslandgoed goed te keur.
Hierdie grond loop nie net deur twee digbewoonde voorstedelike gebiede nie, daar is ook verskeie groot vleilande met brose fauna en flora.
Geen rekords van omgewingsimpakstudies is by die raad ingedien as bewys dat hierdie studies tot dusver gedoen is nie.
Die munisipaliteit laat dit aan Sanral oor om te verseker dat alle impakstudies gedoen word, maar daar is geen waarborg dat Sanral die waardevermindering van residensiële eiendomme in dié omgewing sal oorweeg nie.
Die Ntulo- Wildslandgoed is ‘n gesogte leefstyllandgoed, en die bou van so ‘n pad sal die natuurlike omgewing wat aan die landgoed grens verwoes met ernstige gevolge vir alle eiendomseienaars in die gebied.
Dieselfde gebeur tans in Witrivier met die voorgestelde konstruksie van die P166-verbypad, wat ook deur vleilande met brose en skaars plantspesies sal gaan.
Dit word heftig teengestaan deur die Witrivier-belastingbetalersvereniging sowel as die hele gemeenskap.
Beide beplande paaie gaan ʼn bedreiging inhou vir watersekerheid, toerisme en die omgewing.
Die VF Plus is nie gekant teen ekonomiese ontwikkeling nie, maar dit moet in balans geskied en die skade aan die natuur en belange van inwoners in die omgewing moet oorweeg word.
Die VF Plus beveel aan dat daar teruggegaan word na die tekenbord om meer gepaste roetes te identifiseer vir die pad. Die munisipaliteit besit wel eiendom wat oorweeg kan word en openbare deelname aan hierdie proses is die sleutel tot sukses.
Tans blyk hierdie ʼn ontwikkelingsprojek te wees tussen die munisipaliteit en Sanral sonder om die plaaslike realiteite in ag te neem.
Die VF Plus sal alles in die stryd werp om die beoogde padontwikkeling te beveg.


