Die nuwe koalisie-regering in Mogale City het gedurende hul jongste raadsvergadering ‘n voorstel vir die opgradering van die raadsaal vir meer as R7,4 miljoen as belaglik en lagwekkend beskou.
Dié voorstel wat deur die vorige bedeling nagevors en voorgestel is, sê verder dat ‘n addisionele R704 129 by die R7 401 290 gevoeg kan word om voorsiening te maak vir ‘n tien persent verhoging in bedryfskoste.
Rdl. Amanda de Lange van die VF Plus-koalisie, het die uitleg en monitering van die projek bevraagteken. “Daar is ‘n vae uiteensetting van hoe die geld gespandeer gaan word. Dit is onaanvaarbaar. Dit blyk dat dié projek geoormerk is om die laaste bietjie uit die geldkas te stroop.
“Die huidige raadsaal dien nog sy doel. Daar is ‘n toename in openbare belangstelling, maar dit sal stabiliseer. Vir eers is daar belangriker sake waaraan aandag geskenk moet word.
"Die raad het die kwotasie bevraagteken waaronder R2 miljoen aan skrynwerk en stoele gespandeer word, ‘n verdere R1,5 miljoen aan die trappe en afwerking, R450 000 aan die plafon, R85 000 aan deure en toebehore, R200 000 aan ‘n sekuriteitsdeur en R350 000 aan die mure en vloer. Daar is ook ‘n verdere R229 250 toegeken aan onvoorsiene uitgawes. Die professionele fooie beloop net onder ‘n miljoen.
"Volgens die verslag sal die werk en voorbereiding sowat agt maande duur.
"Die raad het na oorweging besluit om die item terug na die betrokke komitee te verwys.
“Met die stigting van ‘n koalisie-regering is die VF Plus deel van die besluitnemingsproses om te sorg dat belastingbetalers se geld produktief aangewend word,” het rdl. De Lange bygevoeg.
Tel: 071 604 9498