fbpx
Vryheidsfront Plus

Wanbestuur in polisie stel Suid-Afrikaanse burgers toenemend bloot aan misdaad

Ernstige misdaad soos die skokkende moord van Johann Heunis wat die naweek voor sy gesin naby Kameeldrift, Pretoria, doodgeskiet is, moet ook voor die deur van die polisie gelê word wat weens wanbestuur nie die land se burgers na behore beskerm nie, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-LP en leier in Gauteng.

Volgens adv. Alberts het hy enkele maande gelede juis oor ernstige misdaad met die polisie in Gauteng gepraat toe aan hom erken is dat die diens se funksionaliteit ernstig gestriem word deur ‘n tekort aan kundige personeel en voertuie.

“Een van die skok-erkennings was dat sowat die helfte van die provinsie se voertuie weens ‘n verskeidenheid meganiese en ander probleme nie gebruik kan word nie.

“Die VF Plus het rede om te glo dat die situasie in Gauteng rakende voertuie ‘n getroue weerspieëling is van die situasie elders in die land.

“Ons is ook daarvan bewus dat regstellende aksie (RA) groot leemtes aan kundigheid binne die polisie gelaat het en dat spesialis-eenhede soos die polisie se laboratoriums wat bewyse van misdaadtonele moet ondersoek en ontleed, ‘n geweldige groot agterstand op hul werk het en dat baie ondersoeke hierdeur gekelder word.

“Dit is dinge soos hierdie wat ‘n mens onwillekeurig moet laat vra of moorde soos die op mnr. Heunis nie verhinder kon word indien die polisiediens ten volle funksioneel was nie.

“Geweldsmisdaad en moord is oral in die land onaanvaarbaar hoog, maar veral in die omgewing van Pretoria is dit besig om buite beheer te raak.

“Dit is duidelik dat die nasionale wanbestuur van die polisie die instansie ontneem van die geleentheid om die samelewing te beskerm.

“Indien die ANC-regering nie wil luister en iets daadwerkliks omtrent misdaad doen nie, insluitende deur die ekonomie reg te bestuur ten einde werksgeleenthede te skep, sal die burgers gaandeweg die reg in eie hande begin neem en selfs sover gaan om belasting te weerhou.

“Die opstand oor e-tol was die eerste teken daarvan en dit sal nie veel meer verg vir mense om belasting sover hul kan te weerhou nie. Die regering moet weet dat sy dae van argeloosheid oor menselewens getel is.

“Die VF Plus wil opnuut sy medelye met elke slagoffer van misdaad in die land uitspreek, en in die besonder ook met die familie van die vermoorde mnr. Heunis,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.