Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emfuleni: Vergoedingsdispuut ontaard in gyselaarsdrama

Die betaling van oortyd aan amptenare van die Emfuleni plaaslike munisipaliteit (ELM) se verkeersafdeling het vir duistere redes vir lang tydperke agterweë gebly – oortyd wat gewerk is, is eenvoudig nie aan die betrokke amptenare betaal nie. Hierdie sensitiewe situasie het uiteraard tot groot ongelukkigheid gelei. Die bestuur van ELM het ter regstelling ‘n ooreenkoms met die amptenare aangegaan en ooreengekom om die betaling van ses maande se oortydvergoeding oor ‘n tydperk van vier maande te versprei. Gevolglik is die eerste agterstallige oortydbetalings in September 2016 gedoen.

“Toe amptenare in September die eerste ‘paaiement’ van die verskuldigde oortyd saam hul salarisse ontvang, was die gort behoorlik gaar. Die amptenare was ontevrede en het in teenstelling met die ooreenkoms wat bereik is, daarop aangedring dat alle verskuldigde oortydvergoeding onmiddellik en eenmalig aan hul betaal word. Hulle was nie meer te vinde vir enige ooreenkomste nie omdat hulle die addisionele ure gewerk het en in terme van heersende wetgewing daarvoor vergoed moes word,” het me. Gerda Senekal, VF Plus-raadslid vir Emfuleni, gesê.

Woedende en gefrustreerde verkeersamptenare het die terrein van ELM beset en die situasie het baie vinnig handuit geruk. Van die ander amptenare, selfs raadslid Gerda Senekal van die VF Plus, moes vir hul eie beskerming en veiligheid in kantore toegesluit word. Na ‘n geruime tyd is Senekal uit die gebou – net om opnuut saam met lede van die publiek, wie nie uit die parkeerareas kon kom nie, as gyselaars geneem te word. Hulle is erg geïntimideer en hardhandig deur die verkeersamptenare hanteer. ‘n Hewige woordestryd en woordewisseling het gevolg en na harde argumente het die verkeersamptenare toegestem dat die hekke aan die oostekant van die ELM-kompleks vir 10 minute oopgemaak word sodat die publiek kon uitgaan.

Behalwe dat amptenare en lede van die publiek deur hierdie laakbare optrede getraumatiseerd is, moet kennis geneem word dat die optrede van die verkeersamptenare onwettig, onbeskermd en sonder enige toestemming was. Die VF Plus veroordeel hierdie kriminele optrede in die sterkste moontlike terme en oorweeg tans regstappe teen die raad sowel as die verkeersafdeling. Sulke optredes sal onder geen omstandighede deur die VF Plus geduld word nie.

Die VF Plus gaan na hierdie voorval met die raad in gesprek tree om te verseker dat maatreëls in plek gestel word om te verhoed dat inwoners van Emfuleni geïntimideer, getraumatiseerd of aan enige kriminele aksies blootgestel word wanneer hulle die munisipaliteit besoek – dit mag nooit weer gebeur nie.

“Ons sal onverpoosd en vreesloos daaraan werk en oplossings vind om te verseker dat inwoners die munisipaliteit te alle tye met trots en vrymoedigheid kan besoek,” aldus Senekal.

 

Gerda Senekal

gertruidasenekal1@gmail.com>,

076 616 2124

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.