Die Vryheidsfront Plus het vandag ‘n openbare vergadering in Harrismith bygewoon met betrekking tot die eksplorasie-aansoek van Sungu-Sungu vir Gas, Olie en Kondensaatbronne. ‘n Opedag is deur Environmental Impact Management Services (EIMS) gereël, maar die gemeenskap het ‘n openbare vergadering op EIMS afgedwing.
Jan van Niekerk, provinsiale leier van die VF Plus in die Vrystaat, het homself gedurende die vergadering baie sterk uitgespreek teen die metodes en die beginsel van eksplorasie wat beplan word om in die Vrystaat te gebruik.
“Wat egter kommerwekkend is, is die feit dat die VF Plus die enigste politieke party is wat homself as geaffekteerde party in die proses geregistreer het,” het van Niekerk gesê.
Ongeveer 565 000 hektaar gaan deur hierdie aansoek beïnvloed word en 10 proefgate wat uit die sestiger-jare dateer word beplan om weer en dieper geboor te word. Daar word ook beplan om tien nuwe gate te boor. Volgens EIMS se Bryan Whitfield, gaan nuwe tegnologie gebruik word, wat meer gespesialiseerd is as die wat gedurende die 1960’s gebruik is.
Ongeveer 150 boere van die distrikte van Harrismith, Verkykerskop, Mont Pelaan en so ver as Vrede, Memel en KwaZulu-Natal het die vergadering bygewoon en het hul gevoelens en teenkanting met betrekking tot hierdie beplande eksplorasie-proses, baie sterk uitgespreek.
Die gevolge wat hierdie en die daaropvolgende proses op die natuur, landbou en water-beskikbaarheid gaan hê, is volgens kenners van so ‘n aard dat dit water-beskikbaarheid en voedselsekuriteit baie nadelig gaan beïnvloed. Die gebied wat geteiken word is die direkte opvangsgebied vir die Meul- en Wilge-riviere wat op hul beurt in die Vaalrivier invloei. Indien water met giftige stowwe besmet word, gaan dit mens en dier benadeel. Dieselfde proses wat in Amerika gevolg is, was uiters nadelig vir fonteine en ondergrondse watervlakke.
EIMS is gedurende die vergadering sterk veroordeel vir die feit dat geen moeite gedoen is om met die spesifieke belange-partye te konsulteer, op wie se grond geboor gaan word nie. Die gebrekkige proses en wyse waarop EIMS kennis gee en konsulteer is ook sterk veroordeel.
Die VF Plus sal die proses deurlopend monitor en sal alles in sy vermoë doen om sy kiesers in hierdie gebied te beskerm.
Jan van Niekerk
Kontaknommers: 083 743 2042 / 058-6250063