Die Openbare Beskermer (OB) het bevestig dat ondersoek ingestel gaan word na die besluit van Eskom vroeër vanjaar om ‘n betaling van R30 miljoen aan Brian Molefe te doen. Minister Lynne Brown het later geweier om die betaling goed te keur.
Die OB het in ‘n skrywe aan die VF Plus bevestig dat besluit is om die aangeleentheid te ondersoek nadat klagtes soortgelyk aan dié van die VF Plus ontvang is. ‘n Senior ondersoeker is aangewys om die ondersoek te behartig.
Adv. Alberts sê die besluit is verblydend gesien in die lig van die grootskaalse vermorsing van geld by die openbare kragvoorsiener wat grootliks die rede is dat Eskom sy tariewe in die afsienbare toekoms met tot 58% kan verhoog.
Hy sê dit is ook verblydend om te sien dat daar wel nog bereidwilligheid van die OB se kantoor is om ondersoek in te stel na ongerymdhede waarby staatsinstellings betrokke is.
In die VF Plus se versoek aan die OB in April vanjaar het adv. Alberts gevra dat politieke betrokkenheid tot op die hoogste vlak ondersoek word en dat die betrokkenes persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir hul optrede.
Volgens adv. Alberts was die besluit om die geld aan Molefe te betaal duidelik onregmatig en dit was nie eens duidelik of dit ‘n pensioen-uitbetaling of ‘n goue handdruk was nie aangesien Molefe self na slegs agtien maande diens as hoof uitvoerende beampte by Eskom bedank het.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403