“Die voormalige minister van polisie en huidige minister van openbare werke, Nathi Nhleko, se misbruik van die openbare orde polisie om sy woning in KwaZulu-Natal deur agt polisielede en ‘n Nyala-voertuig te laat oppas is totale misbruik van staatsbronne en moet persoonlik betaal vir die dienste gelewer”, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus leier en hoofwoordvoerder oor polisie.
“Nhleko, as voormalige minister van polisie, weet dat hy nie geregtig was op hierdie beskerming by sy private woning nie en dat dit onwettig is. Beskerming van ministers geskied in elk geval deur die BBP-beskermingseenheid en nie openbare orde polisie nie. Dit is ontstellend dat die Nyala-voertuig benodig was vir ander noodsaaklike openbare orde polisiëring, maar verbied was om van die woning te onttrek.
“Senior offisiere moet ook verduidelik hoekom dit toegelaat was en of die provinsiale kommissaris en ook die operasionele nasionale adjunk-kommissaris bewus was van die beskerming, en sal ek hierdie vrae by die eerskomende vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie in die parlement vra”, het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403