fbpx
Vryheidsfront Plus

Oos-Kaap se “apartheid-ambulansmotorfietse” van R10 miljoen moet tot op die been ondersoek word

Pogings van die Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Sidiswa Gomba, om apartheid die skuld te gee vir die vrugtelose vermorsing van R10 miljoen vir die aankoop van honderd “ambulans”-motorfietse, hou nie steek nie en die aangeleentheid moet tot op die been ondersoek word.

Die uitlating van Gomba is geen verrassing vir die VF Plus nie. Die party beskou dit eerder as ‘n erkenning van die LUR vir haar onvermoë om verantwoordelikheid te aanvaar vir swak bestuur, besluitneming en moontlike ongerymdhede.

Dit is ‘n algemene strategie van ANC-leiers om apartheid vir alles te verkwalik om hul onvermoë te verbloem. Die woord verantwoording het vir die ANC-regering verdwyn, want apartheid negeer dit totaal. Korrupsie, wanbestuur en bedrog word bloot uitgewis deur dié enkele woord.

Dit kan nie so aanhou nie. Veral openbare ampsdraers moet begin besef dat onbevoegdheid en misdaad nie langer deur apartheid weggevee kan word nie.

Dit is wel insiggewend dat die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, wat die ontvangs van die motorfietse bygewoon het en die LUR toé geluk gewens het, nou ook die projek kritiseer.

Die totale agteruitgang van mediese dienste in die provinsie, soos in die res van Suid-Afrika, is nie net skrikwekkend nie, maar ‘n verleentheid. Nie alleen word daar daagliks in die media berig oor die swak toestande en die sluit van eenhede van hospitale en klinieke nie, maar ook van mense met Covid-19 wat nie eens gehospitaliseer kan word nie.

Dit is duidelik dat die LUR en haar departement nie voorbereid is om die pandemie te hanteer nie. Met die daaglikse styging van nuwe positiewe Covid-19-gevalle, stuur die provinsie se gesondheidsdiens-vermoë op ‘n ramp af wat groot lewensverlies tot gevolg gaan hê.

Om die departement onder administrasie te plaas, gaan nie die pandemie laat verdwyn nie. Die VF Plus is van mening dat die LUR summier afgedank moet word en dat die aankoop van die motorfietse deeglik ondersoek moet word vir enige ongerymdhede wat die party hoegenaamd nie sal verbaas nie.

Navrae: 082 822 3414

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.