fbpx
Vryheidsfront Plus

Onderwys: Wat kom na Bela?

Met algemene teenstand teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) wat opbou, is die vraag wat in die plek daarvan moet kom. Die SA Skolewet wat dié dinamiese bedryf tans reguleer, is immers al in 1996 aanvaar.

Die antwoord lê in toenemende besluitneming op die laagste moontlike vlak, tesame met ‘n skeiding van die departement se rolle as diensverskaffer en reguleerder.

Die verskeidenheid wat tans in onderwys heers, was nêrens so duidelik nie as met geleenthede vir openbare deelname oor die sogenaamde Bela Bill.

Skole met verskillende behoeftes, tuisskole met uiteenlopende opvoedkundige denkraamwerke en die sentrale rol van internetgegronde hulpbronne, was opvallend.

Hierdie verskeidenheid word met die voorgestelde wet óf teengewerk, óf geïgnoreer. As dit nie vir vakbondlede van die Cosatu-geaffilieerde SA Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) en selfs amptenare van provinsiale departemente was nie, sou openbare steun vir die wetsontwerp nog veel laer gewees het.

As die wetsontwerp tot ná volgende jaar se verkiesing vasval, sal dit opnuut ter tafel gelê moet word – tien jaar na die eerste bekendstelling daarvan.

Dit behoort duidelik te wees dat ‘n nuwe wet dan liewer geskryf moet word.

Só ‘n wetsontwerp moet die grootste moontlike mate van selfstandigheid aan openbare skole toeken – selfs wat keuse van kurrikulum betref. Dit sal bronne vrystel om strenger beheer oor skole wat nié die mas opkom nie, toe te pas.

‘n Onafhanklike onderwysreguleerder moet geskep word, soortgelyk aan die energie- en kommunikasieowerhede. Die rol van Umalusi, die huidige gehaltekontroleur, kan daarvoor uitgebrei word.

Provinsiale onderwysdepartemente word dan slegs diensverskaffers vir openbare skole, met geen bevoegdheid oor onafhanklike- en tuisskole nie.

‘n Nuwe wetsraamwerk vir onderwys moet die ouerhuis en gemeenskap se deurslaggewende rol erken en verskans, met die staat wat slegs hulp verleen indien nodig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.