Die minister vir binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi moet as politieke hoof van die departement instaan vir die chaos rondom die Immigrasiewet.
Die departement het versuim om te voldoen aan ʼn 2017-Grondwethofbevel om wysigings aan die wet aan te bring wat reeds teen Junie 2019 gedoen moes wees.
Op navraag van hoofregter Raymond Zondo oor die aangeleentheid, het die minister die skuld gepak op die optrede van amptenare.
Volgens Motsoaledi is hy nooit ingelig het dat hy persoonlik aanspreeklik was om seker te maak dat die opdrag uitgevoer word of om toe te sien dat uitstel gevra word om die wysigings aan te bring nie.
Hy voer ook aan dat die regsadviseurs van die departement ʼn duidelike opdrag om hom op hoogte van sake te hou, nie nagekom het nie.
Die departement plaas weer die blaam op die 2019-algemene verkiesing, die Covid-19-pandemie in 2020 en die brand in die parlementsgebou as rede waarom nie aan die gestelde tydlyn voldoen is nie.
Dit hou geen water nie. Beide die pandemie en die brandskade aan die parlementsgebou het plaasgevind nadat die Junie 2019-tydlyn reeds verstryk het.
Die hof sal nou moet besluit hoe die regte van aangehoudenes beskerm sal word tot tyd en wyl die departement die immigrasiewetgewing gefinaliseer het.
Artikel 92 van die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal uitdruklik dat ministers verantwoordelik en verantwoordbaar is vir die magte en funksies wat ampshalwe aan hul toegeken is. Kabinetsministers is verder verantwoordbaar aan die parlement.
Die VF Plus sal ʼn persoonlike kostebevel teen min. Motsoaledi en die direkteur-generaal van binnelandse sake, Livhuwani Makhode, verwelkom.
Die minister is duidelik nie in staat om die departement te bestuur of verantwoordbaar te hou nie.
Die volgehoue agteruitgang van dienslewering in die departement beklemtoon die noodsaak om die ANC-regering in 2024 te vervang met ʼn nuwe veelparty-koalisieregering.