Die munisipale raad in die ANC-beheerde Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) is vandag deur die munisipale bestuurder, Lesego Seametso, ingelig dat die nasionale tesourie Matlosana se aansoek om skuldverligting goedgekeur het.
Die aansoek is aan die tesourie gerig nadat Eskom vroeër op die munisipaliteit se rekeninge beslag gelê het weens opgehoogte kragskuld van meer as R2 miljard.
Die munisipaliteit het ook ʼn uitstaande waterrekening van meer as R1,8 miljard by die Midvaal-watermaatskappy.
Die tesourie se skuldverligtingsprogram vir munisipaliteite stel egter duidelike voorwaardes waaraan munisipaliteite moet voldoen.
Om byvoorbeeld te kwalifiseer vir ʼn kragskuldafskrywing van tot ʼn derde van die uitstaande bedrag soos op 31 Maart vanjaar, moet ʼn munisipaliteit vir twaalf maande streng aan alle gestelde voorwaardes voldoen.
ʼn Totale afskrywing van skuld kan verdien word deur streng voldoening oor ʼn tydperk van drie jaar. Geen verdere skuld mag ook vir ʼn tydperk van drie jaar deur die munisipaliteit aangegaan word nie.
Die balans van die skuld, asook die lopende krag- en waterrekening, moet stiptelik maandeliks aan diensverskaffers vereffen word voordat enige ander operasionele uitgawes aangegaan word.
Voorafbetaalde kragmeters moet by bestaande verbruikers geïnstalleer word, en geen nuwe kragaansluitings mag gedoen word op die bestaande rekening-gegronde stelsel nie.
Die program vereis ook dat stappe geneem word om professionele finansiële bestuur en volhoubare, befondsde begrotings te verseker.
Dit is egter te betwyfel of die huidige ANC-beheerde administrasie in Matlosana die politieke wil of die vermoë het om aan die tesourie se vereistes te voldoen.
Die ANC-bewind in Matlosana is immers direk verantwoordelik vir die onbeheerbare skuldlas en die krimping van die maandelikse inkomste tot slegs R120 miljoen per maand.
Dit sal dissipline en professionaliteit in ʼn korrupsievrye administrasie verg om die skuldverligtingsprogram in Matlosana te laat slaag.
In ʼn munisipaliteit wat bekendheid verwerf het as ʼn broeikas vir ANC-kaderontplooiing en bykans onbeteuelde korrupsie, het die nasionale tesourie se reddingspoging weinig kans op sukses.
Die VF Plus sal die instel van die skuldverligtingsprogram monitor en aanhou stry vir ʼn skoon, professionele administrasie in Matlosana.
Die inwoners van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein verdien beter as die ANC.