Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ondersoek Bheki Cele vir bewerings van inmenging met toekenning van kontrakte

Bewerings van lt.genl. Francinah Vuma, adjunk-nasionale polisiekommissaris, dat polisieminister Bheki Cele onder meer R5,5 miljoen aan belastinggeld bestee het vir sy regsake, is ernstig en moet behoorlik ondersoek word.

Minister Cele sal so spoedig moontlik moet antwoord op hierdie beweringe.

Dit is baie duidelik dat die faksiegevegte in die topbestuur van die polisie nie tot ‘n einde gekom het nadat die vorige nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, uit sy pos verwyder is nie.

Ek het toe reeds gewaarsku oor die gevolge van die interne faksiegevegte wat misdaadbestryding ernstig benadeel.

Dit het klaarblyklik nie gebeur nie en nou wil dit voorkom of die huidige nasionale kommissaris, genl. Fannie Masemola, die skoothondjie is van minister Cele en dat hulle hul eie agenda dryf.

Daar sal ernstig en spoedig opgetree moet word om hierdie interne geskille by te lê. Indien dit nie gebeur nie, sal die polisie verder verswak en die eindelike verloorders is die publiek van Suid-Afrika wat toenemend uitgelewer sal wees aan misdaad.

Minister Cele is optrede is lank reeds omstrede. Tydens sy termyn as nasionale kommissaris het die vorige openbare beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, hom in ‘n verslag betrek by die onreëlmatige toekenning van ‘n opgeblase huurkontrak van R1,5 miljard aan mnr. Roux Shabangu.

Hy is om hierdie rede verwyder as kommissaris maar is daarna steeds as minister van polisie aangestel.

Luidens die bewerings van lt.genl. Vuma blyk dit nou dat minister Cele weer inmeng met die toekenning van kontrakte aan sekere verskaffers. Dit is niks anders as korrupsie en staatskaping nie.

Ek sal die parlement se portefeuljekomitee vir polisie versoek om ‘n behoorlike ondersoek hieroor te doen.

Ek sal ook vir president Cyril Ramaphosa skriftelik vra om ‘n regterlike kommissie aan te stel om ondersoek te doen na hierdie bewerings van korrupsie.

As daar een plek is waar korrupsie nie geduld mag word nie, is dit juis die polisie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.