Randwater se jarelange gebrek aan onderhoudswerk aan opgaar-reservoirs in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit en Sasol is die oorsaak dat dié gebiede ʼn 16 dae-wateronderbreking gaan beleef.
Die onderbreking begin op 30 Mei en gaan duur tot 16 Junie. Die reservoirs sal in dié tydperk skoongemaak en herstel word.
Van die reservoirs is so gekraak dat miljoene liter water verlore gaan.
Gebiede wat deur die onderbreking geraak gaan word, sluit in Bedworthpark, Sharpeville, Tshepiso, Boipatong, Vanderbijlpark, Bophelong, Bonanne en omliggende kleinhoewes.
Die herstelproses van reservoirs sal ook dorpe soos Sasolburg, Vaalpark en omliggende gedeeltes raak.
Emfuleni gaan gereeld gebuk onder wateronderbrekings wat toegeskryf kan word aan die B15-waterpyplyn wat nie genoeg water vanaf die hoof reservoir kan verskaf nie.
Watertrokke sal tydens die tydperk na geraakte gebiede ontplooi word.
Die VF Plus sal die proses van watervoorsiening deeglik monitor om te sorg dat water geredelik aan inwoners voorsien word.