Soveel as 449 polisievoertuie wat veronderstel is om aangewend te word om die Vrystaat te beveilig, staan in onbruik.
Dié syfer is onthul in ʼn antwoord van die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, Jabu Mbalula, op ʼn vraag van die VF Plus in die wetgewer.
Die voertuie is tans onbruikbaar weens onder meer herstelwerk en inspeksies.
Die syfer is kommerwekkend aangesien die voertuie veral in landelike gebiede aangewend kan word om inwoners se veiligheid te verseker.
Georganiseerde landbou in die provinsie is dit eens dat net meer as 100 voertuie nodig is om die landelike veiligheidstrategie in die Vrystaat effektief te implementeer.
Dié strategie behels onder meer dat elke landelike polisiekantoor oor ten minste een polisievoertuig moet beskik wat aangewend word vir landelike beveiliging.
Volgens die LUR is daar nie by een polisiekantoor in die provinsie ʼn voertuig wat vir die uitsluitlike doel van landelike veiligheid toegewys is nie.
Veral veediefstal en veiligheid bedreig die landbousektor. Elke beskikbare hulpbron is nodig om misdaad in landelike gebiede te bekamp.
Daar is tans te veel gevalle in die platteland waar die polisie of te lank neem om by ʼn misdaadtoneel uit te kom of nie opdaag nie.
Die VF Plus sal in die betrokke portefeuljekomitee in die wetgewer daarop aandring dat die departement verduidelik waarom soveel voertuie in onbruik staan en hoe die situasie beredder gaan word.
Die party sal ook die minister van polisie, Senzo Mchunu, versoek om die aangeleentheid te ondersoek.
Die Vrystaat kan nie bekostig dat selfs net een polisievoertuig of net een polisiebeampte nie effektief funksioneer nie.


