fbpx
Vryheidsfront Plus

Onafhanklike grondoudit vernietig mite dat wittes 80% van grond besit

‘n Onafhanklike oudit van grondbesit in Suid-Afrika wat pas afgehandel is, vernietig die populistiese mite dat wittes tagtig persent van grond besit, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dié oudit en ontleding van grondbesit is gedoen deur Agri Development Solutions (ADS) met die samewerking van Landbouweekblad, Landbou.com en Agri SA om die kwessie van grondbesit vanaf 1994 tot en met verlede jaar te belig met data van die nasionale aktekantoor.

Dr. Groenewald sê die belangrikste bevinding is dat kommersiële landbougrond buiten die tuislande in die besit van wit boere sedert 1993 van 67% van die totale oppervlakte van Suid-Afrika afgeneem het tot 55% 2016.

Teen verlede jaar het mense van kleur bykans ‘n derde van die waarde van landbougrond in die land besit, en sowat die helfte van alle hoëpotensiaal-landbougrond (46,5%).

In 1994 het wittes altesame 85,1% landbougrond besit. Dit het teen 2016 afgeneem tot 73,3% en eienaars van kleur besit nou 26,7%. Dié 26,7% sluit egter bykans die helfte van die land se beste, of hoëpotensiaal-landbougrond in.

In KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo is meer as 50% van die grondwaarde tans in mense van kleur se besit.

Dr. Groenewald sê ‘n kommerwekkende aspek in die oudit is die bevinding dat die regering tot dusver grootliks grond wat hy reeds in 1994 besit het, gebruik het om grondhervorming te bewerkstellig.

“Ek wag tans vir die verslag van die minister oor die amptelike nasionale oudit en dit behoort interessant te wees om te sien hoe dit vergelyk. Daar was ‘n onderneming van regeringskant om dit reeds gister (Dinsdag) aan my te oorhandig.

“Wat hierdie oudit veral waardevol maak is die feit dat die staat se oudit nou hieraan gemeet kan word om sodoende te verseker die ware feite rondom grondbesit word op die tafel geplaas,” sê dr. Groenewald.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.