Die premier van Gauteng, mnr. David Makhura en die VF Plus se LPW in die Gauteng-wetgewer Philip van Staden, het ooreengekom om met mekaar te praat oor die moorde, plaasmoorde en protesaksies teen moorde wat in die provinsie plaasvind.
Dit volg nadat Van Staden gister, tydens ‘n sitting van die Gauteng-wetgewer, in sy toespraak genoem het dat die regering nie die oplossing vir die probleem is nie aangesien hy self die probleem is.
Die premier het na die debat met Van Staden gesels en beide partye het ooreengekom dat so ‘n gesprek uiters noodsaaklik is en dat dit binne die volgende paar dae moet plaasvind.
“Ek het dit in my toespraak duidelik gemaak dat nog meer betogings teen plaasmoorde en moorde gaan volg.
“Die aanvra van ‘n dringende gesprek deur die premier met die VF Plus word verwelkom. Dit is ‘n bewys dat die afgelope ‘Swart Maandag” ‘n groot sukses was en dat die regering geen keuse het as om aandag aan die probleem op ‘n dringende basis te gee nie.
“Die afmaking deur die ANC en EFF dat die afgelope Maandag ‘n rassistiese betoging was, dra geen water nie aangesien mense van alle bevolkingsgroepe regdeur die land die aksie ondersteun het en mnr. Makhura besef dit.
“Daar gaan gewis nog betogings, soos afgelope Maandag, plaasvind om nog meer druk op die regering te plaas. Die druk sal aanhou toegepas word en die VF Plus gaan ook help om hierdie druk te verhoog,” sê Van Staden.
Kontakbesonderhede: 084 015 4722