Die nuwe munisipale bestuurder in Emfuleni, mnr. D Nkoane, het sedert sy aanstelling nog niks gedoen om die dorp uit die modder te laat opstaan nie, sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.
Senekal sê die probleme wat die gebied voor Nkoane se aanstelling ervaar het, is nog steeds ‘n groot kwessie.
“Vullis, wat weekliks verwyder moet word, word nou maandeliks verwyder. Dit geld ook munisipale rekenings. Niemand het die afgelope twee maande ‘n rekening ontvang nie. Baie rekeninge is foutief en om die probleem reg te stel, is soms ‘n nagmerrie.
“Nog probleme sluit in waterlekke wat nie herstel word nie, reservoir-pompe wat ononderbroke werk, waterprobleme en gebiede met lae waterdruk. Daar is ook vele klagtes oor rioolstorting, onwettige sjebiens en studentebehuising.
“Gedurende mnr. Paul Mashatile, LUR vir menslike nedersettings en samewerkende regering, se besoek aan Bedworthpark, het hy daadwerklike verbeterings belowe sodra die nuwe munisipale bestuurder aangestel is. Dit het nie gebeur nie.
“Die VF Plus gaan die situasie dophou en mnr. Nkoane tot verantwoording roep indien dienslewering nie verbeter nie. Belastingbetalers van Emfuleni het die reg om in ‘n funksionele omgewing te woon,” sê Senekal.
Kontaknommer: 076 616 2124